Man skiet glo vrou, seun in ongevalle

(Argieffoto: pixabay)

ʼn 51-jarige man verskyn Dinsdag in die Nebo-landdroshof in Limpopo nadat hy na bewering sy vrou en seun in die ongevalle-afdeling van ʼn hospitaal geskiet het. Dié voorval volg op ʼn bakleiery wat by die huis uitgebreek het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê in ʼn verklaring die voorval het Maandag omstreeks 02:30 in die St. Rita’s-hospitaal in Glen Gowie, etlike kilometer van Steelpoort, plaasgevind.

Volgens Mojapelo is die pa en die 25-jarige seun in die vroeë oggendure in die hospitaal opgeneem nadat hulle beserings tydens ʼn bakleiery die vorige aand by hul huis naby die nedersetting Jane Furse opgedoen het.

Luidens inligting het die man sy vrou omstreeks 20:00 aangerand waarna die seun wou ingryp. Die man het toe op sy seun afgestorm waarna die seun ter verdediging die pa met ʼn skerp voorwerp gesteek het.

Die seun het ook beserings in die onderonsie opgedoen en albei is afsonderlik na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Dáár gekom het ʼn woordewisseling weer tussen die gesinslede opgevlam. “Die man het skielik sy drup verwyder, na sy voertuig gegaan en teruggegaan ongevalle toe waar hy sy vrou en seun geskiet het,” sê Mojapelo. Albei is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Die man het homself later aan die polisie oorgegee. Hy word deur twee aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar.

Maroela Media het boonop Dinsdag berig ʼn man is in hegtenis geneem nadat hy ʼn jong dokter in nóg ʼn hospitaal in Limpopo vermoor het. Die dokter se liggaam is Sondag in haar kamer in die Mankweng-hospitaal aangetref.

ʼn Pasiënt is ook vroeër vandeesmaand in ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal op teregstellingswyse doodgeskiet. Maroela Media het vroeër berig dié pasiënt is ten aanskoue van ander pasiënte en verpleegpersoneel in die Clairwood-hospitaal doodgeskiet.

Die DA het kort daarna sy kommer uitgespreek oor voortslepende veiligheidsprobleme by gesondheidsinstellings, veral in dié provinsie. “Dit laat ernstige vrae onstaan oor die opleiding wat veiligheidswagte by hospitale ontvang,” het dr. Rishigen Viranna, die DA se woordvoerder oor gesondheid in KwaZulu-Natal, gesê.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) in KwaZulu-Natal het kort op die DA se hakke gesê die veiligheid van sy lede, ander gesondheidswerkers, die publiek en pasiënte mag nie onderbeklemtoon word nie en maatreëls om mense te beskerm moet dringend verskerp word.

“So kan dit nie langer aangaan nie,” het dr. Zanele Bikitsha, voorsitter van SAMA in die provinsie, gesê. Sy het verwys na die situasie waar werkers onderwerp word aan onveilige werksomstandighede terwyl hulle ʼn noodsaaklike gesondheidsdiens aan die provinsie se mense probeer verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

c ·

Hier by ons staats hospitaal mag jy glad nie meer binne die parkeer terrein parkeer nie, as gevolg van sulke gevalle maar as jy in loop deur soek hulle jou nie eers nie so wat help dit jy moet buite parkeer, as jy net met ‘n wapen kan instap???? Raak al te bang om hospitaal toe te gaan.

A-nee-a ·

Watse euwel steek sy kop oral uit waar mense, sonder om te huiwer, iemand skiet??

Skaap ·

Deesdae het almal vuurwapens……dis baie kommerwekkend.
Soos die Anargie toeneem en die land sink

Niklaas ·

Lyk my deesdae gaan vele mense hospitaal toe om te sterf daar , instede van die teenoorgestelde.

Edward Shawe ·

Wat makeer die mense die laaste tyd? Geen mens se lewe is meer iets werd in hierdie land nie.

jakes ·

Die skietery van mense in hospitale het reeds n stokperdjie geword. Die regering sal moet spesifieke afgesperde plekke in hospitale moet spesifiseer waar pasiente geskiet mag word want hierdie praktyke steur pasiente wat slaap en mense wat tydens besoektyd vir hul naastes kom kuier.

Regte ·

Omdat hulle nie op n skooluitstappie was nie, is dit nie hoofnuus nie! Net soos die tien babas in Tembisa-hospitaal wat gesterf het, maar nie eintlik die nuus haal nie.

Piet parys ·

Dit is te wagte wanneer n land deur die misdadigers regeer word en die regering kyk net toe solank dit nie hulle eie familie is wat in die proses vermoor verkrag of aangerand is nie . HULLE IS MOS OMRING DEUR LYFWAGTE WAT DEUR DIE BELASTING BEFONDS WORD .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.