ʼn Saak van moord word ondersoek nadat ʼn 32-jarige man van Kaapstad Maandagoggend glo ʼn laerskoolonderwyseres doodgeskiet het voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.
Die voorval het omstreeks 08:00 in Lotusrivier plaasgevind. Albei oorledenes se liggame is op die toneel in Brookfordweg aangetref.
Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê behalwe vir die moordondersoek, word ʼn geregtelike doodsondersoek ook gedoen. Dit is nie tans duidelik wat aanleiding tot die skietery gegee het nie.
Intussen het Richard Bosman, die Kaapstad-metro se uitvoerende direkteur vir veiligheid en sekuriteit, gesê die man was nie werklik ʼn vrywillige verkeersbeampte soos deur sommige media beweer word nie.
“Die beweerde skieter was voorheen betrokke by die vrywilliger-wetstoepassingshulpeenheid. Dié reserviste-program vereis van lede om ʼn minimum van 16 ure diens per maand te verrig. Hierdie voormalige hulpeenheidbeampte het vir minstens ses maande nie enige diens in hierdie hoedanigheid verrig nie en is daarom nie meer as ʼn aktiewe lid geag nie,” het Bosman gesê.
Hy het die skietvoorval as tragies bestempel en namens die stad sy medelye aan die naasbestaandes van die oorledenes uitgespreek.
Volgens News24 was die vrou ʼn onderwyseres by die Battswood Primary School naby Ottery.