Man skoonveld ná verloofdes in ongeluk sterf

Ruan Coen en Jessika Kennedy.

Vier maande nadat die man wat vervolg word vir die dood van ʼn jong verloofde paar van Pretoria in die hof moes verskyn het, is die beskuldigde steeds nie opgespoor nie nadat hy versuim het om vir die hofsaak op te daag.

Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) is in 2017 in ’n motorongeluk dood toe hul motor met dié van die beskuldigde op die N4 digby Pretoria gebots het. Die beskuldigde was glo tydens die ongeluk onder die invloed van drank en dwelms.

Die oorledenes se familie is ook raadop, omdat die saak nou al jare lank sloer nadat die dossier eers weggeraak het.

’n Saak van strafbare manslag is ná die ongeluk teen die bestuurder van die ander voertuig aanhangig gemaak. Hy sou op 29 April in die Pretoriase landdroshof verskyn het, maar het nooit vir die hofverrigtinge opgedaag nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid, in samewerking met die polisie, is sedertdien op soek na die man.

Chris Gouws, ’n ondersoeker van die privaatvervolgingseenheid, sê ’n lasbrief vir die man se inhegtenisneming is intussen uitgereik. Hy sê inligting wat die eenheid sover bymekaar gemaak het, dui daarop dat hy homself moontlik in Mamelodi in Pretoria bevind.

Die ondersoek teen die bestuurder het ook vir lank stilgestaan, nadat die dossier spoorloos by die Silverton-polisiestasie verdwyn het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het toe ingegryp om seker te maak die motoris word vervolg. Die eenheid het saam met kol. Werner Everson en sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak gewerk om die dossier weer saam te stel.

Coen en Kennedy se ma’s, Ursula Kors en Rynet Kennedy, sê dit is vir hulle swaar dat die man nie vir die hofsaak opgedaag het nie. Dié twee vroue het aan Maroela Media gesê hulle sal eers volkome berusting kan vind wanneer geregtigheid vir hul kinders se dood geskied het.

“Ek het ’n groot verligting ervaar toe ek gehoor het die man gaan in die hof verskyn. Dit was asof ’n swaar las van my skouers gelig is,” het Kennedy gesê. “Ek mis my kind nog elke dag, elke uur, elke minuut en ervaar baie woede teenoor die beskuldigde.”

Kors sê dit is vir hulle baie frustrerend dat die man steeds nie opgespoor is nie. “Ons is wel baie dankbaar vir al die moeite wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot dusver gedoen het, en verstaan dat daar nie veel meer gedoen kan word totdat die beskuldigde opgespoor is nie,” het Kors gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Ironies dat hy in Mamelodi wegkruip.Dit spreek boekdele.Hoe het die dossier weggeraak………….

Boer ·

Plaas n foto van die man sodat die publiek kan uitkyk of ons die man kan kry.

Anel ·

Net so. Hy is mos nou al aan gekla. Foto en naam. As hulle weet hy is in Mamelodi dan behoirt hulke ‘n adres ook te hê. Hoe moeilik kan dit wees? Amper vergeet ek, dis werk en hoekom gaan hulle ‘n ouer people soek wat 2 blankes se dood veroorsaak het?

Willem ·

Of dit is een van die “ongedokumenteerde” zim/moz besoekers wat mos vrye toegang het en bo die wet verhewe is! Daar was ‘n video wat die rondte gedoen het waarin een erken het dat hulle betaal word om die “take” uit te voer.

Harley Davidson ·

As ek dit reg verstaan was die “polisie” weer verantwoordelik vir die “wegraak” van die dosier en omrede die slagoffers huidig benaadeeldes is word daar blykbaar nie veel aandag gegee nie ,rapporteer die saak by opod en sou julle nie gehelp word nie gooi goeie geld agter slegte skuld aan en dagvaar hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.