Man skuldig aan gru-moord op Polokwane-ma

Tanya Wiers. Foto: Facebook

Frans Maela (26) is Vrydag in die Polokwane-hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Tanya Wiers.

Wiers (44) is op 7 Februarie 2017 grusaam in haar huis in Polokwane vermoor. Rolf Wiers, Tanya se man, was in die hof toe Maela skuldig bevind is op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede. “Ek voel baie rustiger. Ek weet hy gaan nou gestraf word,” het hy aan Maroela Media gesê.

Vonnisverrigtinge sal Maandag begin.

Maroela Media het vroeër berig Wiers se seun het die betrokke middag op sy ma se liggaam afgekom toe hy van die skool af teruggekom het. Wiers het verskeie steekwonde aan haar nek en verdedigingswonde aan haar hande gehad. Haar oë is met ʼn onbekende skerp voorwerp verwyder.

Rolf het destyds aan Maroela Media gesê hy is oortuig daarvan dat die moord nie deel van ʼn gewone rooftog was nie omdat baie min uit die huis gesteel is. Slegs Wiers se trouring en -pand, toonring, armband en rekenaartablet is gesteel.

Die aanvallers het glo twee messe uit die gesin se kombuis gebruik om Wiers mee te vermoor. Die messe is weer gewas en terug in die messeblok gesit, voordat hulle weg is. Wiers se hare is later aan een van die messe gevind.

Die egpaar se destydse tuinier, Alfred Hlongwane (45), is aanvanklik ook van die moord verdink. Daar kon egter niks op die toneel gekry word wat hom aan die moord kon verbind nie en aanklagte is in November 2017 teen Hlongwane teruggetrek.

Maela is dieselfde aand wat die moord plaasgevind het in hegtenis geneem. Hy het ten tyde van die misdaad elders in die buurt gewerk.

“Ek ken nie die regstelsel nie, maar ek wil hê hy moet die swaarste straf moontlik opgelê word,” het Rolf gesê. “Daar is nog woede. Die verlange wat jy het, gaan nie weg nie, maar jy moet vrede maak in jouself om aan te beweeg.”

Rolf het aan Maroela Media gesê hy sal Maandag in die hof wees wanneer Maela sy lot aanhoor.

Lees alle vorige berigte oor Tanya Wiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sophia

Dit was ‘n verskriklike moord en kan net dink wat die arme seun moes deurgemaak het toe hy op sy Ma afgekom het… Ek wens die swaarste straf vir dié bullebak toe!!

JG

Sophia, bullebak is nie die regte woord om die satansdrek te beskryf nie…die skepsel moes die tou gekry het…maar nou ja, n mens kan seker droom.

Onnie

Eks bly dis nou verby. Dit was een vd skokkendste moorde waarvan ek in die media gelees het. Veral omdat die seun op sy ma se verminkte lyk moes afkom, ek kan myself dit nie indink nie. JG al kan ons hom nie die tou gee hier op aarde nie, glo ek sy werklike straf wag nog vir hom…. Die Here het saam met ons gehuil toe Tanya so grusaam vermoor en vermink is deur daardie Satanskind.

Mossie

Rolf, mag God jou en jou seun help om vrede en vergifnis in jul harte te kry sodat jul vry van hierdie satanskind kan wees. God se straf sal wel met Maela afreken.
Alle sterkte met jul lewens voorentoe.

treurgrond

Waar is die tou – man mense kom net weg met als. Hier is Tanya weggevat van haar mense af net weggevat. Tanya se seun het op haar afgekom – hoe verwerk mens ooit so iets. Rolf, sit en hoor hoe hulle Frans Maela gaan straf en partykeer wens mens net persoonlik jy kan hulle self straf net omdat jy gehoor het wat het Tanya deurgegaan. My hart huil saam met julle.