Man skuldig aan Tazné van Wyk se moord

Onstoke gemeenskapslede buite die hof. (Foto: SAPD)

Die man wat tereg staan vir die moord op Tazné van Wyk (8) is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord.

Waarnemende regter Alan Maher het beslis dat Moyhdian Pangkaeker (56) skuldig is aan onder meer haar ontvoering, verkragting en moord. Hy is ook skuldig bevind dat hy Tazné se liggaam ná haar dood geskend het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Pangkaeker is op altesaam 22 van die 25 aanklagte teen hom skuldig bevind. Daar was aanvanklik 27 aanklagte teen hom, maar die staat het twee van die aanklagte later teruggetrek.

Die veroordeelde moordenaar sal na verwagting op 16 Januarie weer in die hof verskyn vir sy vonnisoplegging.

Moyhdian Pangkaeker tydens een van sy verskynings in die hof. (Foto: Eunice Scholtz)

Tazné het op 7 Februarie 2020 uit haar ouershuis in Elsiesrivier verdwyn, waarna haar liggaam later in ʼn stormwaterpyp buite Worcester in die Wes-Kaap gevind is.

Pangkaeker is tien dae later in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat die polisie hom as ʼn verdagte in haar ontvoering geïdentifiseer het.

Kringtelevisieopnames wat die staat as bewysstukke in die hof ingedien het, het gewys hoe Pangkaeker en Tazné ʼn petrolstasie buite Worcester verlaat. Pangkaeker het egter aangevoer dat hy en Tazné in daardie stadium albei slagoffers van ʼn ontvoering was.

Hy het egter ná sy inhegtenisneming die polisie na Tazné se liggaam geneem en die kind se DNS is onder sy vingernaels gevind.

Tazné is verkrag, doodgeslaan en haar een hand is met ʼn stomp voorwerp verwyder.

Ontstoke lede van die gemeenskap het destyds die strate van Parow ingevaar nadat Pangkaeker in die hof verskyn het. Hulle het toe al daarop aangedring dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie, aangesien hy uit was op parool toe Tazné vermoor is.

Pangkaeker is in 2001 in die Bellville-streekshof skuldig bevind aan ontvoering en manslag nadat hy sy destydse vrou, Rosetta Petersen, se tweejarige seun van haar af weggeneem het.

Die tweejarige, wat nie Pangkaeker se biologiese kind was nie, is tot so ʼn mate aangerand dat hy drie maande ná sy ontvoering gesterf het.

Pangkaeker is ʼn vonnis van tien jaar gevangenisstraf opgelê. Hy het teen die uitspraak geappelleer, maar die aansoek het misluk en hy het tot en met 2013 sy vonnis uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George ·

Mag die ergste jou oorkom in die tronk. Mag wat jy gedoen het, met jou herhaaldelik gebeur.

Vanessa ·

Hy verdien die doodstraf, niks minder. As jy ‘n lewe kan neem is dit presies wat jy verdien, is die doodstraf. Jy kan sien hy is ‘n gemors. Hoop die gevangenisse gee hom hel in die tronk.

Sandra ·

Sluit die verdomde moordenaar toe en gooi die sleutel in die see

Daniel ·

Nou gaan hy seker borg kry om 2030 weer in die hof te verskyn

Casper ·

Hy is vantevore op parool vrygelaat na ‘n kind aan sy hand gesterf het,ek hoop hysal nooit weer die son buite sien skyn as ‘n vry man nie.Hy verdien om gestenig te word maar die groot oordeel lê nog vir hom voor.

Maritza ·

Ek is stom geslaan. Hy rand ‘n twee jarige so erg aan dat hy sterf. Die staat vind dit goed om so ‘n man net 10 jaar te gee om na sy vrylating nog ‘n kind te vermoor. Pateties

Delia ·

Maritza kinders wat nie hulself kon verdedig. Ek weet nie hoe slaap die vonnisopleggers nie

ES ·

Hy moet maar sy hoedjie afhaal want volgens sy geloof mag hy ook nie onskuldiges moor nie. Tensy hy natuurlik ‘n radikaal is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.