Man skuldig bevind aan Courtney Pieters se moord

Courtney Pieters

Mortimer Saunders is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die verkragting en moord van die driejarige Courtney Pieters.

Regter Babalwa Mantame het in haar uitspraak gesê Saunders se gedrag is “die mees gewelddadige, gewetenlose en boosaardige wat die hof nog ooit gesien het”.

Courtney se ma, Juanita Pieters, wat Courtney en haar ouer boetie by die huis gelos het toe sy werk toe is, is vrygestel van vervolging.

“Die hof is tevrede dat die staat sy saak bó redelike twyfel bewys het,” het Mantame gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die staat sal nou die voorgeskrewe minimumvonnis vir elk van die aanklagte (lewenslange tronkstraf) versoek. Hy het die staat, die staatspatoloog prof. Dempers, die ondersoekbeampte en die DNS-kenners bedank vir hul bydrae tot die hofsaak.

“Baie dankie ook aan die gemeenskap van Elsiesrivier wat ons bygestaan en alles in hul vermoë gedoen het om seker te maak dat ons dié saak wen. Ek wil dit nie eintlik ʼn ‘wen’ noem nie, want ʼn onskuldige persoon het haar lewe verloor en die kind het ʼn gewelddadige dood gesterf aan die hand van iemand wat ons ʼn leuenaar noem.”

Mantame het in haar uitspraak gesê die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word uit die getuienis is dat Saunders die kleuter verkrag het voor sy dood is en nie ná sy dood is, soos hy bely het nie.

Saunders is in Mei 2017 in hegtenis geneem ná die liggaam van die driejarige in Epping Industria gevind is, nege dae nadat sy uit haar huis in Elsiesrivier verdwyn het. Volgens hom is Courtney dood nadat hy haar miergif ingegee het omdat sy hom gepla het by die huis wat hy saam met haar gesin gedeel het.

Lees alle vorige berigte oor Courtney Pieters op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sp ·

Ek is bly geregtigheid het geskied.
Dis net baie jammer daar was nie so ñ groot gedreun deur ANC en EFF met hierdie saak nie.
Mag haar sieltjie in vrede rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.