Man skuldig ná hy matriekseun voor skool doodskiet

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Jevon Snyman (21) is Donderdag skuldig bevind aan die moord op Glenrico Martin, ʼn matriekleerling, wat koelbloedig voor sy skool doodgeskiet is.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het bevind Snyman het met voorbedagte rade in Mei 2013 saam met Wilston Stoffels na die Spes Bona Secondary School in Athlone gegaan om die 18-jarige Martin te vermoor.

Regter Lister Nuku het gesê die bewyse het getoon dat Snyman ʼn lid van die G-Unit bende was, wat met die Americans-bende geaffilieer is. Snyman het ʼn tatoeëermerk met die woorde ‘G-Unit’ op sy skouer. Martin was ʼn lid van die Hard Livings-bende en volgens die regter het Martin voorheen ʼn skoot in die rigting van ʼn G-Unit lid afgevuur en is hy in ʼn wraakaanval vermoor.

Regter Nuku het die getuienis van Keenan Slinger, ʼn voormalige leerder by die skool, aanvaar. Slinger het getuig hy het gesien hoe Snyman ʼn vuurwapen aan Stoffels oorhandig net voordat Martin geskiet is. Die tieners het buite die skool op die sypaadjie saamgedrom en Slinger het na die taxi waarmee Martin by die skool aangekom het, geloop.

Hy het teruggekyk en gesien hoe Snyman die geweer vir Stoffels gee. Hy het gehoor hoe Stoffels vra, “Is dit hy?” Oomblikke later is ʼn skoot afgevuur en die kinders het begin skree. Martin is een keer in die kop geskiet en is ʼn paar uur later in die Grootte Schuur-hospitaal dood.

Snyman het skuld op die aanklagte teen hom ontken. Hy is skuldig bevind aan moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Stoffels dien tans 24 jaar tronkstraf uit nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het erken dat hy die sneller getrek het.

Martin se pa, Michael (49), het gesê hy hoop Snyman kry dieselfde vonnis as Stoffels. Hy het gesê sy seun was nie deel van ʼn bende nie, maar was vriende met bendes omdat die area waar hulle woon, Manenberg, streng onder die beheer van bendes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.