Man skuldig ná hy verstandelik gestremde verkrag

ʼn Skermskoot uit ʼn video van Nathan Fourie in die hof. Video: ANA

ʼn 28-jarige man is Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind vir die verkragting van ʼn verstandelik gestremde vrou wat die intellektuele vermoëns van ʼn kleuter het.

Nathan Fourie is egter vrygespreek op ʼn aanklag van aanranding van die vrou se oom wat Fourie op heterdaad betrap het met sy broek afgetrek, oomblikke nadat die vrou verkrag is.

Die verkragting het in Junie verlede jaar in Bethelsdorp by ʼn halfgeboude huis gebeur, net ʼn paar meter weg van die huis waar ʼn familie byeengekom het om die slagoffer se suster se 21ste verjaarsdag te vier. Fourie, wat nie genooi was nie, het die vieringe bygewoon, maar hy en die vrou het verdwyn en die familie en gemeenskapslede het na die vrou begin soek.

Die vrou se oom en nog ʼn familielid het op haar en Fourie afgekom nadat hulle haar hoor skree het.

Regter Jannie Eksteen het gesê wanneer hy na die bewyse kyk wat aan die hof voorgelê is, het hy geen ander keuse as om op tot die gevolg te kom dat die vrou verkrag is nie. “ʼn Persoon wat verstandelik gestremd is, is nie in staat om in te stem tot seksuele omgang nie. Die onvermybare gevolgtrekking is dat die klaer verkrag is,” het hy gesê.

Fourie het gedurende die verhoor ontken dat hy die verjaarsdagvieringe bygewoon het en beweer hy het net verby die halfgeboude huis geloop toe hy gehoor het hoe die vrou sy naam roep. Hy het beweer hy het haar aanvanklik geïgnoreer, maar later by die huis ingegaan waar hy die vrou gevind het wat geensins benoud of ontsteld gelyk het nie.

Eksteen het gesê Fourie het nie ʼn goeie indruk in die getuiebank gemaak nie en het gedurig sy hande saamgevryf en oogkontak vermy. Eksteen het ook gesê daar was ʼn hele aantal “groot onwaarskynlikhede” in sy getuienis en hy het Fourie se weergawe van gebeure verwerp.

“Eerstens het die klaer, wat erg verstandelik gestremd is, nog nooit vantevore met [Fourie] gepraat nie, maar sy het hom by ʼn donker stegie ingelok. Ek vind dit baie onwaarskynlik,” het Eksteen gesê. Hy het ook gesê Fourie se bewering dat die vrou verkrag is voordat hy in die halfgeboude huis ingegaan het, is teenstrydig met sy bewering dat die vrou kalm was toe hy op haar afgekom het.

Die saak is tot vandag uitgestel wanneer vonnisverrigtinge sal begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Siek mens wat hy is. Sluit hom toe want hy is ‘n gevaar vir die gemeenskap.

Tina du Toit ·

Duidelik lieg hy deur sy voortande. Hoe sal sy sy naam sommer net ken en uit roep en dan nog in `n donker stegie in lok. Dit klink mos nie reg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.