Man slag glo hond lewend

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

[WAARSKUWING] Die inhoud van die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in Bloemfontein het hul skok en afgryse uitgespreek ná ʼn voorval die afgelope naweek waar ʼn hond lewend geslag is omdat ʼn man glo “lus was vir vars vleis”.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die NDBV, het gesê die voorval het omstreeks 18:00 Vrydagaand in Rocklands in Bloemfontein plaasgevind. Volgens Meyer het die polisie die NDBV geskakel en gevra vir hulp.

“Volgens ooggetuies het ʼn motor ʼn hond raakgery en weggejaag. Die hond het nog gelewe en langs die pad gelê. Die eienaar van die hond het na haar hond kom soek en toe op ʼn baie grusame toneel afgekom. ʼn Man was besig om haar hond lewend af te slag,” het Meyer gesê.

Een van die hond se agterbene was reeds afgesny toe die eienaar van die hond op haar troeteldier afkom. Die eienaar het glo vir die man gevra wat hy besig is om te doen en hy het toe geantwoord hy is honger en lus vir vars vleis.

“Die eienaar en die gemeenskap was woedend en het die man na hul naaste polisiestasie geneem. Met die NDBV se aankoms by die toneel was die hond reeds dood,” het Meyer gesê.

Volgens Meyer het die man aan hulle erken dat dit nie die eerste keer is dat hy dit doen nie. Daar was glo ook brood, polonie en hoenderhappies in sy rugsak, ondanks sy bewering dat hy “vars vleis” wou hê.

Die NDBV het ʼn saak van dieremishandeling teen die man aanhangig gemaak.

Sers. Ikobeng Hlubi, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn 35-jarige verdagte is in hegtenis geneem ná hy in besit van ʼn hond gevind is. “ʼn Stuk van die hond se vel was verwyder,” het Hlubi gesê.

Die man sal vandag in die hof verskyn op aanklag van dieremishandeling.

“Die Bloemfontein NDBV is uiters geskok in die gebeure en is vol vertroue dat die gereg sy gang sal gaan,” het Meyer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Cindy ·

Die wereld het mal geword regtig. Elke liewe dag lees ons van vreeslike dinge wat mense aanvang. Wat gaan aan? Is die hele wereld op dwelms??

amelia ·

Nee niemand is op dwelms nie. Almal maak net soos ons huidige regering. Leef wetteloos.

Denise ·

Walglik onmenslik jy het kos in jou sak gehad jy was nie honger nie net WREED !!!!!

Boet Fasie ·

Die regering veroorsaak al hierdie ellende met pryse van noodsaaklike dienste, kos en petrol wat maak dat arm mense enige iets sal eet, net om aan die lewe te bly. Ek dink baie troeteldiere wat net verdwyn gaan dieselfde pad as die ongelukkige hond.

TDW ·

Boet Fasie. Het jy gelees tot onder? Die man het polonie, brood en hoender-happies in sy rugsak gehad. Hy was g’n honger nie.

Sue ·

Okay, ALLES kan ek nog met pyn en lyding lees maar SULKE goed is verregaande. Die straf wet vir dieremishandeling is net te lig. So iemand gooi ek self met klippe dood voor ek hom polisie stasie toe vat. Wanneer ek klaar is, sal ek myself polisie stasie toe vat.

Theresa ·

Jy’s reg Amelia. Is hierdie man van Suid-Afrika? 10 teen 1 nie. Maar wat word gedoen??

tamboti ·

Stuur die berig internsionaal, die wereld sal meer simpatie vir die hond betoon as ons mense wat vermink envermoor word

M'Lady ·

Ek sal myself eerder weerhou van enige kommentaar. Rus sag, liewe hondjie. Jy is vir ewig verlos van die vreeslikste pyn, lyding en vrees wat jy moes deurmaak.

JC KURVER ·

Hoe aaklig. Arme dier en hartseer eienares. Verskriklik.

Koos ·

Ongelooflik wreed. Niemand durf seker nou vra waarom die vrou se hond in die straat rondloop nie?

Kallie ·

En hier dink ek dis net die Japanese of Chinese wat hondevleis eet? Ek is tot in my murg geskok. Hy was nie honger nie,net lus……vir vars vleis. Grusaam verby. Sluit toe……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.