ʼn 39-jarige man van KwaZulu-Natal het by ʼn kafee ineengestort nadat hy glo tydens ʼn kaping twee keer in die kop geskiet is.
Werner Vermaak, ʼn woordvoerder van ER24, het in ʼn verklaring gesê die voorval het Dinsdag omstreeks 18:00 in New Germany naby Pinetown plaasgevind.
“Die kafee-eienaar het paramedici ontbied toe die man ná die vermeende kaping in sy kafee ingestrompel en op die vloer inmekaargesak het,” het Vermaak gesê.
Paramedici het die slagoffer in ʼn plas bloed op die kafee se vloer aangetref.
“Die slagoffer was baie deurmekaar. Paramedici het dadelik probeer om die bloeding te stop en het hom op die toneel gestabiliseer, en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere behandeling,” het hy bygevoeg.