Man soek ná baba se raaiselagtige dood

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in Mpumalanga is op soek na ʼn man nadat sy vriendin se 14 maande oue babaseuntjie op ʼn raaiselagtige manier dood is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het gesê Vusi Sambo het Maandag na sy vriendin, Phephelaphi Malumane (27), se baba omgesien by haar huis in Mshadza Trust naby Hazyview, Mpumalanga, terwyl sy winkels toe is om kruideniersware te koop. “Daar was glo komplikasies met die klein seuntjie en Sambo het die bure om hulp gaan vra,” het Mohlala gesê.

Die bejaarde buurman het gesien die baba is nie gesond nie en het Sambo aangeraai om hom kliniek toe te neem. Sambo het gewag vir Malumane om terug te keer en ongeveer twee uur later het hulle die baba na die plaaslike kliniek geneem. Hy is met sy aankoms by die kliniek dood verklaar.

“Die baba het sigbare beserings gehad,” het Mohlala gesê. “Die polisie is na die toneel ontbied, maar met hul aankoms het Sambo klaar die toneel verlaat en is sedertdien nie weer gesien nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die baba se dood bepaal.”

ʼn Saak van moord word ondersoek en die polisie glo Sambo sal hulle hiermee kan help, het Mohlala gesê. Enigiemand met inligting oor waar Sambo hom bevind, word versoek om kapt. Calvin Pule by 082 449 0223 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Klink soos nog ‘n geval van kindermishandeling. SOEK daai wetter laat hy kom aantree!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.