Man soek ná vrou se raaiselagtige dood

Eveno Baatjies (Foto: Verskaf)

Die polisie in King William’s Town in die Oos-Kaap het Vrydag ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn man wat glo verbind kan word met die raaiselagtige dood van ʼn vrou op dié dorp.

Kapt. Siphokazi Mawisa, woordvoerder van die polisie, sê inwoners van dié Oos-Kaapse gemeenskap het glo aan die polisie gesê dat Eveno Baatjies verbind kan word met die spoorlose verdwyning van sy vrou, Carmellia Baatjies (36), wat op 5 September as vermis aangemeld is.

Volgens die wenk is Baatjies na bewering deur haar man vermoor voordat hy dae later haar motor wou smous.

Mawisa sê Baatjies het glo Donderdag tydens ondervraging van die polisie weggehardloop, enkele oomblikke voor die polisie op Carmellia se liggaam afgekom het.

Volgens haar het Eveno aanvanklik die wenk van die gemeenskap as ʼn gerug afgemaak en ook ontken dat hy sy vrou vermoor het. Hy het glo gesê Baatjies het die huis op 3 September verlaat met twee selfone in haar besit, en gesê dat sy nie weer teruggekom het nie.

“Die polisie het gedurende die ondervraging grond onder die bed gesien,” sê Mawisa. “Ons het daarna oor die grond uitgevra en versoek dat die man die bed oplig. Toe die polisie hom vra om in die grond te grawe, het hy weggehardloop.”

Sy sê Carmellia se liggaam is glo onder die grond in die vertrek opgespoor.

Mawisa sê ʼn ander verdagte, ’n 30-jarige man, is intussen in verband met die moord in hegtenis geneem. Eveno is egter steeds op vrye voet.

“Dit is nog nie seker hoe sy vermoor is nie. Daar was geen bloed op die vrou se liggaam nie. ʼn Saak van moord is geopen en die ondersoek duur voort,” sê sy.

Enigiemand wat meer inligting oor die voorval word aangemoedig om die polisie in King William’s Town te kontak by 043 6010 100.

Carmellia Baatjies (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.