Man soek vrou se as terug ná kardief dit buit

Japie en Carna Holtzhausen

Japie en Carna Holtzhausen. Foto: Facebook

“Ek het absoluut niks van my vrou oor nie”. Dít is die woorde van ʼn gebroke Japie Holtzhausen (49) van Pretoria nadat ʼn dief Maandagaand by sy motor ingebreek en onder meer sy vrou se stoflike oorskot gesteel het.

Holtzhausen se vrou, Carna (42), is vier weke gelede ná ʼn lang siekbed oorlede. Haar roudiens is op 11 April gehou en Holtzhausen het Maandag haar as by die begrafnisondernemer gaan afhaal. “Ons het nog nie besluit wat ons met haar as wou maak nie. Ek het voorgestel dat ons dit eers by my hou totdat ons deur die rouproses is,” het hy Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Holtzhausen sê hy het ná werk die kissie gaan afhaal waarna hy om 18:40 vinnig by die Spar in Montana stilgehou het om waspoeier te koop. “Ek het my Jeep met die afstandbeheer gesluit en gesien die ligte flikker,” het hy verduidelik. Hy is in die winkel in en met sy terugkeer het hy gesien die houtkissie met haar as daarin is weg. Holtzhausen sê hy het gekyk of die kissie dalk van die sitplek af op die grond geval het, maar opgemerk dat twee skootrekenaars ook weg is. Twee selfone is ook uit die voertuig gesteel.

Holtzhausen sê hy het besef dat hy ‘n slagoffer van die sogenaamde afstandbeheer-slenter was. Die slenter behels dat diewe ’n toestel gebruik om te keer dat ‘n motor met afstandbeheer gesluit kan word.

“Al ons foto’s was op ons twee skootrekenaars. Ek het nie my vrou se as nie, en ek het nie meer die herinneringe van ons lewens saam nie. Ek het my vriende versoek om foto’s wat hulle op Facebook van haar het vir my te versamel, sodat ek darem net iets van haar het. As ek net haar as kan terugkry sal dit wonderlik wees, ek gee nie om oor die ander goed nie,” het hy gesê.

Carna se doodsertifikaat en al Holtzhausen se persoonlike dokumente is saam met die skootrekenaars gesteel.

Carna word oorleef deur haar man en twee kinders uit ʼn vorige huwelik, Tarien en Stefan Prinsloo.

Holtzhausen sê die kissie lyk soos ʼn gewone doodskis, maar heelwat kleiner. Dit is ligbruin van kleur en sowat 250mm lank, 120mm breed, en 120mm hoog. Die woord ‘CB Holtzhausen’ is op die bokant van die kissie in sierskrif geskryf. Haar as is in ʼn plastieksakkie binne die kissie geseël. “Die dief het seker gedink dit is ‘n juweelkissie.”

Mirna Von Benecke, ʼn polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê die afstandbeheer-slenter kom gereeld dwarsoor die land voor en het mense versoek om paraat te wees. Dit vind veral by winkelsentrums plaas. “Staan by jou voertuig as jy dit met ʼn afstandbeheer sluit en maak doodseker jou voertuig is gesluit deur aan die voertuig se deur te voel,” het sy gesê.

Sy sê indien iemand  die kissie vind, kan hulle haar by 012 543 8800 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marlene Lottering ·

Ek het baie simpatie en deernis met hierdie man, maar waarom word waardevolle items sigbaar gelos in die motor ?

nic van rensburg ·

Jammer vir Japie, skielik is allles weg. Maar dankie vir die raad oor afstandbeheer-slenter. Glo mense sal daarby baat. Miskien is die diefstal dan nie heeltemal nodeloos en onsinnig nie. Vertrou jy sal iets van haar terugkry behalwe dat sy vir altyd in jou hart sal wees.

AmY ·

Ek is jammer oor wat gebeur het. Ek glo sy leef voort in sy hart.

Mag die mense wat by die motor ingebreek het en die as en ander items gesteel het, dit in hul hart vind (as hulle enigsins harte het) om die items terug te besorg aan hom.

My hart gaan uit na Mnr Holtzhausen. Hy is nog nie eens deur die rouproses nie, dan verloor hy alles wat hom aan sy vrou herinner het.

Adele ·

Hul se dan in die artikel, hy het direk nadat hy die kissie met die as by die begrafnisondernemer gekry het, oppad huis toe, by die Spar ingegaan. Dit sal mos onprakties wees om eers huis toe en dan weer al die pad terug te gaan. Punt is…. ons bly in ‘n SIEK wereld, en hul is nie veronderstel om skelm te wees en te steel nie!

Sanet ·

Ek stem saam Adele, hierdie is n siek wereld, en absoluut niks is veilig in hierdie wonderlike rainbow nation nie? Hulle het nie n gevoel in hulle nie, hulle steel enige iets?

johanna van jaarsveldt ·

Dis vir my iets verskriklik wat gebeur het, veral omdat ek saam Carna op skool was en ook omdat my man n paar dae na Carna dood is en ek kan my dit nie eens indink dat iemand my herinneringe van my oorlede man moet steel nie. En dan is haar as ook boonop gesteel. Ai Japie ek dink regtig aan jou en bid vir jou. Johanna

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.