Man soek wat glo vrou doodskiet

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Die polisie in Namakgale, Limpopo, het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn man wat na bewering sy vrou doodgeskiet het.

Die voorval het glo Sondag omstreeks 12:00 in die egpaar se huis in Rockview in Namakgale plaasgevind.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het lede van die gemeenskap glo ʼn geweerskoot vanuit die egpaar se huis gehoor en ondersoek gaan instel. Met hul aankoms by die huis het hulle die 31-jarige vrou, geïdentifiseer as Vivi Moropane, in ʼn plas bloed aangetref. Sy het nie meer asem gehaal nie. Paramedici het haar later op die toneel dood verklaar.

“Moropane is as die vrou van die verdagte geïdentifiseer,” bevestig Mojapelo.

“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte Moropane geskiet het en daarna in ʼn BMW van die toneel gevlug het.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het egpare versoek om hulle te weerhou van geweld ten tyde van huishoudelike uitdagings.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan lt.kol. Lilian Mahlathi by 082 469 1240 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.