Man spring van balkon by winkelsentrum

‘n Skermskoot uit die video van die voorval by die Hartsfield-Jackson Atlanta-internasionale lughawe.

ʼn Man het Saterdag by ʼn bekende Kaapstadse winkelsentrum van die boonste vloer van die sentrum gespring.

Die voorval het by die Canal Walk-winkelsentrum gebeur.

Sedertdien word ‘n video van ‘n man wat van ‘n balkon spring wyd op sosiale media versprei tesame met inligting dat die voorval in ‘n Suid-Afrikaanse winkelsentrum gebeur het.

In dié video, wat volgens mediaberigte sowat twee weke gelede by die Hartsfield-Jackson Atlanta-internasionale lughawe in Georgia in die VSA geneem is, kan gesien word hoe ‘n man oënskynlik in ʼn rusie met iemand betrokke is voor hy die reling van die balkon gryp en homself oor die reling slinger. In die val tref hy die bokant van ʼn muur voor hy die grond tref.

Geskokte ooggetuies het hard geskree toe hulle sien wat die man doen, maar niemand kon daarin slaag om hom te keer nie.

Die video word nou saam met foutiewe inligting oor die voorval versprei, onder meer dat dit in ‘n winkelsentrum in Port Elizabeth plaasgevind het.

Vanessa Herbst, bemarkingsbestuurder van Canal Walk, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn werknemer van een van die sentrum se kontrakteurs wel Saterdag van ‘n boonste vlak by die winkelsentrum afgespring het. Sy wou egter nie uitbrei oor die rede vir die man se optrede nie.

“Veiligheidsbeamptes en die sentrum se mediese personeel het gehelp om die man te stabiliseer voordat hy na ʼn hospitaal geneem is,” het Herbst gesê. Dit is nie duidelik hoe ernstig die man beseer is nie.

“Ons is tans besig met ʼn volledige ondersoek na die voorval. Ons sal enige klante en personeel met berading bystaan indien nodig.”

[Red] Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anelda Loedolff ·

Daardie foto was by Atlanta lughawe nie Canal Walk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.