Man stabiel ná Stilbaai-haaiaanval, vriend vertel wat hy gesien het

Die man word na die aanval per helikopter na 'n hospitaal vervoer. Foto: Louise Mouton

Die man word na die aanval per helikopter na ‘n hospitaal vervoer. Foto: Louise Mouton

Stuart Anderson, die 42-jarige branderplankryer wat Sondagmiddag deur ʼn haai aangeval is by Stilbaai in die Wes-Kaap, is in ʼn stabiele toestand.

Anderson, ʼn Stilbaai-inwoner, het onder meer skeurwonde aan sy regterkuit, -knie en -heup opgedoen nadat hy omstreeks 15:00 by Morris Reef deur ʼn haai aangeval is.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Maandag gesê die aanval het ten aanskoue van Anderson se twee vriende, Jonathan Gursch (46) en Petro van Nierop (21), gebeur terwyl hulle branderplank gery het.

“Volgens Gursch was hy sowat 20 m weg van Anderson en Van Nierop toe hy gesien het hoe hulle ewe skielik in die rigting van die rotse geswem het. Hulle was sowat 50 m van die strand af. Volgens Gursch het hy ʼn gevoel gekry iets is nie pluis nie en die haai agter hulle opgemerk, waarna hy self na die rotse geswem het. Die haai het toe onder die water verdwyn,” het Lambinon gesê.

Gursch het in daai stadium nie geweet dat Anderson reeds gebyt is nie. “Anderson en Van Nierop het na die rotse geswem sonder om ʼn woord te sê. Toe Gursch daar opdaag, het hy die bytmerke aan Anderson se regterbeen gesien. Hy het dadelik gehelp om hom uit die water en op die rotse te kry.”

Lambinon het gesê twee junior NSRI-vrywilligers, Arno Grewe (16) en Leon Combrinck (17), was in die omgewing en is deur omstanders van die voorval ingelig. Hulle het Anderson bygestaan en sy wonde verbind terwyl hulp ontbied is.

Anderson is na die NSRI se Stilbaai-basis daar naby geneem. Die provinsiale nooddienste en ʼn Skymed-helikopter was kort daarna op die toneel en het die behandeling oorgeneem. Anderson is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal op George geneem vir mediese behandeling.

Die NSRI het al die rolspelers vir hul pogings geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Illa ·

Ek weet kenners stry tot die dood dat dit nie die geval is nie, maar ek glo vas dat die geduikery saam met die haaie direk verantwoordellik is vir die toename in haai aanvalle langs die Tuinroete. Hoekom moet ‘n mens nie ape voer nie? Want hul leer om mense met kos te vereenselwig en val mense naderhand aan op soek na kos. Hoekom sal dit dan nou anders wees in die geval van haaie? Dis tog ook maar net ‘n wilde dier.
My innige simpatie met die slagoffer – ek hoop jy is sommer gou weer op die been.

Roepstem van Noorde ·

Dis nou interesant. Nog nooit so daaraan gedink nie. Maak nogal sin

Joey ·

Baie interessante stelling – miskien kan iemand navorsing doen oor die inset.

SNEL ·

Ja-nee, Illa, klink vir my ook of jy n ding beet het, dit maak sin, maar nou is die vraag, as hulle ondersoek instel en agterkom dat dit wel so is, sal hulle dit ooit stop, want dit is n inkomste en lok toeriste. Baie sterkte aan Stuart, hoop jy herstel gou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.