Man steeds in koma ná egpaar by waterval afval

André en Mar-Louise Pretorius saam met hul seuntjie, Liam. Foto: Verskaf

André Pretorius (31) is steeds in ʼn koma nadat hy en sy vrou, Mar-Louise (29), byna twee weke gelede by die Karkloof-waterval in die KwaZulu-Natalse Middelland afgeval het.

Die Pretorius-egpaar en hul seun, Liam (3), wat van Howick afkomstig is, was op 6 Oktober op ʼn uitstappie na die waterval toe die ongeluk gebeur het. André het naby die rand van die krans na die pragtige natuurskoon gekyk en Mar-Louise het hom gewaarsku om verder weg van die rand af te staan.

André het egter sy balans verloor en Mar-Louise het sy hand gegryp om hom te keer. Die egpaar het saam ongeveer 35 m na benede op die rotse geval en ernstige beserings opgedoen. ʼn Vriend van die egpaar kon gelukkig vir Liam by Mar-Louise gryp toe die ongeluk gebeur het en die kleuter is nie beseer nie.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is na die toneel ontbied en het die egpaar na die Mediclinic-hospitaal in Pietermaritzburg gehaas waar albei in die waakeenheid opgeneem is.

Mar-Louise het skedelbreuk opgedoen, asook erge sny- en kneusplekke en haar sleutelbeen gebreek. André het ook skedelbreuk, skade aan sy longe en inwendige bloeding opgedoen.

André is in ʼn geïnduseerde koma geplaas waarna dokters sy milt verwyder en ʼn gaatjie in sy skedel geboor het waardeur oortollige vloeistof gedreineer kon word.

André en Mar-Louise Pretorius. Foto: Verskaf

“Dit is die mees traumatiese tyd van ons lewe,” sê Mar-Louise. “As gesin was ons al deur so baie, maar ek het nooit gedink ons sou in so ʼn situasie beland wat ons byna ons lewe gekos het nie. Ek wens ek kon iets gedoen het om te keer dat André val.”

Mar-Louise is sedertdien na Grey-hospitaal oorgeplaas en maak al meer vordering. Sy sou vandag ʼn oogoperasie ondergaan om ʼn senuwee wat knyp te herstel. Sy het ook vandeesweek fisioterapie begin ontvang om met haar gebreekte heup en skouer te help.

Die omvang van André se beserings is nog nie bekend nie. Dokters het reeds sy verdowingsmedikasie gestaak en wag nou dat hy self wakker word.

“Ek is dankbaar om te lewe en daar te wees vir ons seun, maar ek lewe elke dag in vrees dat my man nie uit sy koma gaan wakker word nie of nie weer dieselfde sal wees nie. Hy is so ʼn sterk persoon en ek weet nie hoe ek sonder hom sal klaarkom nie,” sê Mar-Louise.

Afgesien van die lewensbedreigende beserings het die voorval ook die egpaar in ʼn finansiële krisis gedompel. Zane Groenewald, woordvoerder van die skarefinansieringswebwerf BackaBuddy, sê die egpaar se mediese koste beloop al meer as R380 000 aangesien hulle nie ʼn mediese fonds het nie.

Mar-Louise Pretorius en Kayleen Esterhuizen. Foto: Verskaf

Kayleen Esterhuizen (29) en Angela Woodhouse (35), vriende van die Pretorius-egpaar, het ʼn veldtog op BackaBuddy op die been gebring om met die mediese koste te help. Teen Donderdagmiddag is daar ʼn raps meer as R95 000 vir André en Mar-Louise ingesamel.

Esterhuizen sê Mar-Louise en André sal enigiets doen om ander mense in nood te help en daarom het hulle besluit om die geldinsameling vir hulle te begin. “Ons kan nie wag dat hulle weer by die huis en met Liam herenig is nie.”

Mar-Louise het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat reeds tot die BackaBuddy-veldtog bygedra en boodskappe van ondersteuning gestuur het. “Al die boodskappe en skenkings tot ons BackaBuddy-fonds word nie as vanselfsprekend beskou nie en is werklik ʼn bron van troos in hierdie baie moeilike tyd. Ek wil almal uit my hart bedank vir wat hulle vir ons doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yankee ·

Kan jy nou meer! Wonder nou wie gaan die skuld hiervoor kry. Dank die Vader die seuntjie is ok.

Penellope Jones ·

Waarom moet iemand die skuld hiervoor kry?? Dit was n ongeluk. Ek is seker daar is plek in Negativeville vir jou. Trek asb spoedig soontoe!!!!

Elsa ·

Ek hoop van harte dat Andre sal wakker word en volkome herstel.

Helena. ·

Baie jammer vir julle..hoop julle albei n spoedige herstel toe..bly die seuntjie is veilig..sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.