Man steeds nie terug op plaas ná grondbesetting

Die kennisgewing wat ondernemings ontvang het. Foto: Verskaf.

Pieter Boshoff (70), die man wat sy plaas in Burgersfort in Limpopo moes verlaat uit vrees vir sy lewe nadat hy Sondag deur sowat 70 grondbesetters op die grond ingewag is, weet steeds nie wanneer hy na sy plaas sal kan terugkeer nie.

Chanta van der Walt, Boshoff se prokureur, het Donderdag gesê hulle wil in dié stadium nie té veel besonderhede oor sy bewegings bekendmaak nie. “Boshoff het die plaas ontruim en is steeds nie daar nie.”

Die tussentydse hofbevel wat Van der Walt en adv. Marisa Naude vandag in die Polokwane-hooggeregshof teen respondente 1 en 3 in dié saak wou bekragtig, is egter van die hand gewys.

Respondente 1 en 3 is twee van die drie vermeende sakemanne in die dorp wat glo die erwe uitgemeet het op Boshoff se grond en vir R2 500 elk aan lede van die gemeenskap “verkoop” het.

“Ons is hoogs teleurgesteld in die uitspraak. Ons het so ʼn sterk saak gehad. Met sulke sake moet jy kans kry om verklarings voor te hou of mondelinge getuies op te roep. Die advokaat het opgestaan en kon die eerste paragraaf van die eerste verklaring lees, toe keer die [waarnemende] regter haar,” het Van der Walt gesê.

Van der Walt het gesê die waarnemende regter het bloot gereageer deur dit duidelik te maak dat hý in beheer van sy hof is, hy reeds die hofstukke gelees het en nie oortuig is dat respondent 1 en respondent 3 op Boshoff se eiendom teenwoordig was nie.

Die Fetakgomotubatse Expropriation Land Forum en die EFF het vandeesweek ʼn kennisgewing uitgestuur waarin alle ondernemings, waaronder groothandelaars, meubelwinkels, straatverkopers, banke en vulstasies, gewaarsku word om hul ondernemings Woensdag teen 15:00 te sluit vir ʼn massavergadering wat op die oop stuk veld buite die Autozone sou plaasvind.

“Die forum sal nie verantwoordelik gehou word vir enige skade wat aan enige onderneming wat tydens dié tyd oop is, aangerig word nie,” lui die kennisgewing.

Boshoff en sy voertuig is met klippe bestook. Op die foto kan sy motor se gebreekte venster gesien word. Foto: Verskaf.

Maroela Media verneem dat sowat 70 mense die vergadering bygewoon het en dat paaie vir ʼn kort ruk gesluit was, maar toe later weer oopgestel is. Die EFF het glo van winkel tot winkel geloop en toegesien dat dit gesluit is.

Bedrywighede in die dorp het egter vandag weer teruggekeer na normaal en dinge lyk ook in dié stadium rustig op Boshoff se grond.

“Ek wil klem plaas op die feit dat my kliënt wel in besit is van ʼn finale hofbevel téén enige betreder [respondent 4] wat ook respondent 1 en respondent 3 sal insluit, sou hulle weer hul optrede herhaal. Die grondgryp is dus suksesvol afgeweer,” het Van der Walt gesê.

Maroela Media het vroeër berig Boshoff en van sy werknemers is glo op 15 Augustus ten aanskoue van polisiebeamptes aangeval en moes vir hul lewe vlug. Die polisie het glo “hande gevou gestaan en toekyk”.

Oor dié bewering het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê hy is bewus van die besettingsvoorval en die polisie se ondersoek duur nog voort. “As die klaer enige probleme ervaar, moet hy dit aanmeld by die stasiebevelvoerder of die Groblersdal-polisiëringsgebied se bevelvoerder vir ingryping,” het Ngoepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

TLC ·

Nou wat nou Oom gaan jy terug plaas toe of wat
Trump jul moet gas gee ASB
Eff dink of moet ek sê hul weet CR is hul backup so is daar iemand die oom kan gaan help en beskerm
Ek so graag wou maar die ouderdom is net so klein bietjie teen my
Please mense MY MENSE

Realiteit ·

Jammer, Oom, ek sien geen uitweg vir jou nie, selfs die Polisie staan met hulle hande in hulle sakke en toekyk! Ek het self n ruk daar gewoon en ek weet hoe groot die werkloosheid en huisskaarste daar is, en hoe groot die gaping tussen arm en ryk daar is!…Jy sal maar moet toegee, anders is jy jou lewe kwyt!!!

Oom ·

Kan die oom by jou kom bly en by jou kom boer? Gaan jy hom ‘n inkomste elke maand gee?

Willem ·

CR het mos klaar gesê sulke goed gebeur nie in die land nie, ook nie daar in Randfontein nie, en as dit gebeur is dit nie die Regering se skuld nie.

PrR ·

Waar’s die EFF en ANC en ou CR wat sê dié gebeur nie en dat Trump moet skoert??

Ksp ·

Iemand tweet hierdie berig asb saam met al die ander comments van suidafrika op trump se tweet sodat mens die waarheid daar buite kry

GM ·

Is sulke ‘vergaderings’ nie die ideale tyd om ook in massas op te daag nie? Toe die optog gehou is teen plaasmoorde, het so ‘n groot groep mense saamgestaan, maar ander dae, hardloop elkeen in hul eie rigting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.