Man steek vriendin aan die brand

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

ʼn 35-jarige man sal na verwagting Dinsdag in die Emalahlani-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat hy sy vriendin probeer vermoor het. Hy het haar in Desember aan die brand gesteek, maar is gister (Maandag) eers deur die polisie opgespoor.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die man en sy 19-jarige vriendin het op 21 Desember ʼn hewige rusie gehad. Hulle het glo saam ʼn kamer in ʼn huis in Witbank gehuur.

Terwyl sy geslaap het, het hy paraffien oor haar gegooi. Sy het wakker geword toe sy die paraffien ruik. “Die man het sy vriendin toe aan die brand gesteek en haar in die kamer toegesluit,” vertel Hlathi.

Hlathi sê die vriendin het uit angs begin skree. Sy het die man gesmeek om die deur oop te maak. “Die man het die deur oopgemaak, maar dadelik daarna weggehardloop.”

Medehuurders van die huis het die vrou hoor skree en gesien dat sy erg gebrand is. Hulle het die polisie en paramedici na die huis ontbied.

Paramedici het die vrou hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling. Die polisie het ʼn saak van poging tot moord geopen.

Hlathi sê die polisie het die saak ondersoek en vasgestel die man het net ná die voorval van Witbank gevlug.

Die polisie het hom Maandag opgespoor. Hy het in Shatale, digby Bushbuckridge in Mpumalanga, weggekruip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.