Man sterf by luukse landgoed

Argieffoto

ʼn Man, vermoedelik in sy 20’s, het Vrydag by die luukse Teal and Trout-landgoed in Machadodorp, Mpumalanga, verdrink.

Annine Siddall, ER24-woordvoerder, sê die man het glo in ʼn dam verdrink.

Die Teal and Trout-landgoed is sowat 970 hektaar groot en ʼn gewilde trekpleister vir forelvissery. Die landgoed het sowat 18 verskillende damme.

Volgens Siddall het die ER24-nooddienste omstreeks 11:55 op die toneel aangekom nadat hul deur omstanders ontbied is. Die SAPD se soek-en-reddingspan was glo ook op die toneel.

Siddall sê die man is op die toneel dood verklaar.

“Die presiese omstandighede rondom die voorval is nie in dié stadium bekend nie,” het sy in ʼn verklaring gesê.

ʼn Polisieondersoek na die voorval is van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.