Man sterf drie jaar ná vrou se moord op hoewe

Marlet en Manie Entres (Foto: Facebook)

Manie Entres, wie se vrou meer as drie jaar gelede langs hom op hul kleinhoewe in die omgewing van Kameeldrift-Oos doodgeskiet is, is vandeesweek oorlede.

Manie is Dinsdag in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria oorlede, nadat hy die afgelope twee jaar met sy gesondheid gesukkel het. Hy was 65 jaar oud.

“Hy was nooit weer dieselfde nie. Dit [die aanval] het aan hom gekou,” vertel sy seun, Marco.

Maroela Media het destyds berig twee verdagtes het in September 2018 die veiligheidshek van die huis op die kleinhoewe in Buffelsdrift Bavaria, Gauteng, oopgedwing. Die boewe het Manie, sy vrou, Marlet, hul dogter en kleindogter in die huis vasgebind. Marlet is gedurende die aanval in haar bors geskiet en later dood verklaar.

Manie is ná die aanval weg op die kleinhoewe, maar het ten tyde van sy dood steeds in die Kameeldrift-omgewing gewoon.

Dit is hiér waar hy jare lank aktief betrokke was by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en vroeër as voorsitter van die GPF se brandvereniging gedien het.

Manie Entres was betrokke by die Kameeldrift-GPF se brandvereniging. (Foto: Verskaf)

Nic Arnold, hoof van korporatiewe voldoening by AfriForum, sê Manie was ’n ware steunpilaar in die omgewing en het die gemeenskap met onbaatsugtigheid gedien.

Arnold woon self in Kameeldrift en is ’n goeie vriend van Manie. AfriForum het Manie ook destyds ná die aanval bygestaan.

“Manie ervaar nou die ewige rus in sy Hemelse Vader se arms, en as daar nou een persoon is vir wie ek dit gun, is dit vir hom,” sê Arnold.

Petrus Nel, voorsitter van die plaaslike GPF, sê Manie het veral ’n groot rol gespeel in die jare toe die GPF tot stand gekom het en was altyd bereid om te help en leiding te gee.

“Hy het baie van sy eie geluk opgeoffer om die gemeenskap te help.”

Marco sê hy sal sy pa as “’n groot man” en steunpilaar onthou. “Hy het groot spore in bitter baie mense se lewe getrap. Hy het spore getrap wat ek nie sal kan vul nie.”

Manie word oorleef deur Marco, sy dogter, Milet, en sy twee kleinkinders, Milan en Deon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Is die twee verdagtes al gevang? Indien nie hoe vorder die ondersoek? Seker dom vraag, vra maar net.

Swerwer ·

Hartverskeurend. Geen mens kan regkom na jou lewensmaat koelbloedig vermoor is deur die ANC kader nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.