Man sterf in fratsongeluk

Die huis waar die fratsongeluk plaasgevind het. Foto: Crisis Medical

Die huis waar die fratsongeluk plaasgevind het. Foto: Crisis Medical

ʼn Man is Vrydagaand dood nadat ʼn muur op hom ineengestort het by sy huis in Westville in Durban, KwaZulu-Natal.

“Daar word verneem dat die gesin se huis onder water was weens hewige reën in die gebied en dat hulle ook sonder elektrisiteit was,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê. Volgens omstanders op die toneel het die man, nog ʼn volwassene en twee tieners na buite gegaan om vermoedelik die muur te ondersoek.

“In dié stadium is dit nog nie duidelik of hulle vermoed het die muur is beskadig en of hulle juis daarom gaan ondersoek instel het nie. Die muur het op die man ineengestort en hy was onder die puin en in water vasgekeer.” Volgens Vermaak het die man geen teken van lewe getoon met paramedici se aankoms op die toneel nie. Paramedici het onmiddellik behandeling toegepas, maar die man is later op die toneel dood verklaar. Volgens Vermaak was die man 55 jaar oud.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, het intussen gesê die man was 49 jaar oud. Volgens Van Reenen is die man se vrou ook tydens die voorval beseer. “Sy het nek- en rugbeserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat sy na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere mediese sorg.”

Die voorval word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.