Man sterf in PTA-ontploffing

Nooddienste versper die pad naby die toneel. Foto: Herbert Atkinson

Nooddienste versper die pad naby die toneel. Foto: Herbert Atkinson

ʼn Man is Maandag dood en een ernstig beseer tydens ʼn ontploffing by ʼn skrootwerf in die weste van Pretoria.

Herbert Atkinson (21), ʼn lid van die Area Patrol Unit wat eerste op die toneel was, het aan Maroela Media gesê die ontploffing het omstreeks 09:00 by die perseel op die hoek van Servaas- en Rebeccastraat plaasgevind.

“Ek en my pa het by die toneel aangekom en ʼn man op die grond tussen motors sien lê, stukke van sy liggaam het oor die toneel gelê,” het Atkinson gesê.

Een man wat tydens die ontploffing beseer is, is in ʼn ernstige toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die oorledene en beseerdes het glo by die skrootwerf gewerk.

Na wat verneem word, het die mans glo aan ʼn toestel gewerk wat springstof bevat het, toe dit ontplof het.

Die polisie se bomeenheid is na die toneel ontbied en hulle het die strate in ʼn twee blok radius afgesper en vir verkeer en voetgangers gesluit.

Volgens kol. Caroline Naidoo, stasiebevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisiestasie, is die polisie tans op die toneel en ondersoek die voorval. Volgens Naidoo is daar ook projektiele op die toneel gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeutjie ·

Hoe kan sulke goed net rondle en hoe het dit daar gekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.