Man sterf in skietery met polisie

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Vermeende rower is doodgeskiet kort nadat hy glo ʼn 28-jarige vrou in New Germany, noordoos van Pinetown, beroof het.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê die voorval het Vrydag omstreeks 17:30 plaasgevind.

“Die vrou het langs Dinkelmanweg geloop toe ʼn silwer Hyundai met drie insittendes langs haar stilgehou het. Hulle het ʼn geweer op haar gerig en haar gedwing om in die voertuig te klim,” het Gwala Maandag gesê.

Die verdagtes het die vrou van haar selfoon beroof. Sy kon daarin slaag om die deur oop te maak en uit die voertuig te klim. Die verdagtes het daarna van die toneel weggejaag.

“ʼn Polisiebeampte van die Ethekwini-polisiegroepering het die voorval gesien en die verdagtes tot in die Clermont-gebied agterna gesit. Die verdagtes het op die beampte geskiet en hy het teruggeskiet en een verdagte noodlottig gewond.”

ʼn 27-jarige verdagte, ʼn polisiebeampte verbonde aan die KwaMashu-polisie, is met die hulp van die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem. Die ander verdagte kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek.

Die verdagte wat in hegtenis geneem is, moet binnekort in die Pinetown-landdroshof verskyn op aanklagte van roof en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannatjie ·

Waaaattt? Ernstig!! Wat gaan aan met sommige van ons polisie??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.