Man sterf in vliegtuigongeluk: ‘Hy was ʼn sagte, goedhartige ou’

Kotie Steyn. Foto: Facebook.

“Hy was hierdie sagte, goedhartige ou wat almal gehelp het.”

Só sê André de Jager oor sy swaer, Kotie Steyn (54), wat Dinsdagoggend dood is toe sy ligte vliegtuig naby Lephalale in Limpopo neergestort het.

Steyn het Dinsdagoggend net ná 07:00 op sy plaas Zwartwater opgestyg waar hy sy eie private vliegveld het.

De Jager vertel dat Steyn oudergewoonte oor die plaashuis gevlieg het om vir sy vrou, Marie (De Jager se suster) totsiens te sê. “Daar het ʼn vriendin by haar gekuier en hulle het toe hy oor die huis vlieg opgespring en gesien iets is nie reg nie, hy het baie laag gevlieg.”

Steyn was op pad na Johannesburg om sake te gaan afhandel en juis ook die vliegtuig te laat versien.

Volgens De Jager het die vliegtuig ongeveer vyf kilometer verder op ʼn naburige plaas neergestort.

“Werkers het vir ons vertel die vliegtuig het opgestyg en toe het die enjin gestaak en dit het geval. Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar ons vermoed hy het dalk probeer hoogte kry deur die vliegtuig op te trek. Dalk was hy van plan om toe ʼn noodlanding te doen? Ons weet nie. Enigiets kon gebeur het.”

Steyn is op slag dood.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO), het ook die voorval aan Maroela Media bevestig en bygevoeg die BLO ondersoek die voorval.

“Vlieg was sy passie in die lewe. Ons is ʼn baie hegte familie, hy was régtig iemand wat baie mense gehelp het, hy was soos my eie boetie. Hy het na baie mense gekyk,” het De Jager gesê.

Steyn sal Saterdag om 10:00 uit ʼn kerk naby Zwartwater begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Bridget ·

Het ek reg gtelees ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek teen wie

Cherokee ·

Tensy ek die term verkeerd verstaan, verwys manslag altyd na ‘n tweede persoon wat dood is as gevolg ‘n handeling, hetsy strafbaar of nie, deur ‘n eerste persoon. Daar moet tog twee mense betrokke wees. Sou iemand anders iets aan die vliegtuig gedoen het wat dit laat duik het? Hoe dit ook al sy, die beskrywing laat dit klink na ‘n lugstaking (stall).

Nettie ·

Dalk speel ek Duiwelsadvokaat hier, maar miskien vermoed die polisie dat daar gepeuter is met die vliegtuig se binnegoed …..

Cherokee ·

Nie baie waarskynlik nie Nettie, want daar is spesifieke toetse wat ‘n vlieënier moet doen voor opstyging. Die toetse behels ondermeer inspektering van die vliegtuigromp sowel as kragtoets. ‘n Gepeuter sou raakgesien gewees het.

Dit word gesê dat hy die vliegtuig in Johannesburg sou laat ‘versien’ het. Indien versien reg verstaan word het hy dalk kommernis gehad oor enjin-probleme. In daardie geval sou hy ekstra seker gemaak het. Dit mag ook wees dat bloot verkeerde woordgebruik ingepas word en dat hy die hernuwing van lugwaardigheidsertifikaat sou laat doen het. My Cherokee s’n het ek altyd op Wonderboom laat doen en dit mag wees waarheen hy op pad was.

Ek dink dit is slegs herhaaldelike verkeerde woordgebruik wat die mistasting veroorsaak.

Alida ·

Tragies maar dit lyk of SAPD nie eintlik weet wat hulle moet ondersoek nie. Strafbare manslag is mos belaglik.

Koot ·

Ek glo hulle bedoel ‘n geregtelike doodsondersoek sal gehou word, nie strafbare manslag nie.

Mak Muil ·

Het as jong ingenieur saam met Kotie gewerk in Lephalale! Sout van die aarde mens.

Sterkte aan die familie!

km ·

En dis ‘n kolonel wat die strafbare manslag ding kwytraak…..behoede ons!!!!

JOGGIE JOUBERT ·

Soos Cherokee sê ..dit is slegs verkeerde woordgebruik…. hulle bedoel eintlik dat n geregtelike ondersoek sal volg …wat gedoen word as n persoon onnatuurlik sterf. Jammer om te sien dit was n Jabiru.
Sal graag die wil weet wat die oorsaak was.?

Randie ·

Ag wil Maroela Media nie met slimmer woordkeuses negatiewe kommentaar help verhoed in die toekoms nie asseblief? Dis mos onvermydelik dat ons sulke opmerkings gaan lees, as jul daardie sin so bewoord??
Partykeer weet mens vooraf wat jy gaan uitlok… en dan vermy jy dit mos?
Asseblief ????

Cherokee ·

Randie, verkeerde woordgebruik is by verstek so maklik wanneer berig gelewer word oor ‘n onbekende veld. Wanneer iemand skryf oor iets wat die persoon nie ken nie, is dit so maklik om verkeerde woorde te gebruik. Wat sal jy sê as ek jou vertel dat ‘n vliegtuig nie kan neerstort nie, behalwe in enkele hoogs uitsonderlike situasies. Ten spyte daarvan kan ‘n vliegtuig in ‘n berg vas vlieg maar die koerante sê dit het neergestort. Dit sê nie die grond het gestyg nie, nee, hulle sê dit het neergestort. Dit is tegnies en nie die plek om vir jou te verduidelik wat is die slegs 3 of 4 situasies waarin dìt kan neerstort nie (lugspoed-staak, tolvlug, vlerk afbreek ens.) maar verstaan maar wat ek sê. Die probleem met verkeerde woordgebruik is dat dit hele opset verander van wat werklik gebeur het na iets onwerklik. As jy my voorlaaste sin bedink sal jy verstaan waarom ons aandring op korrekte feite.

Linda ·

Die strafbare manslag saak is heeltemal korrek – daar is waarskynlik nie op hierdie stadium selfs ‘n vermoede by die SAPD dat daar met die vliegtuig gepeuter is nie, maar ‘n saakdossier moet deur die SAPD geopen word, ten einde hulle in staat te stel om die aangeleentheid te ondersoek en te bepaal of dit wel bloot ‘n geval was waar die vliegtuig se motore gestol het en of daar dalk, deur ‘n ander party, met die motore gepeuter was . In laasgenoemde geval sal die klagte dan verander na moord. Indien geen ander persoon by die saak betrek kan word uit hoofde van die polisie ondersoek nie word die dossier verander na ‘n geregtelike doodsondersoek wat ook deur ‘n tersake regsliggaam in ‘n hofondersoek bevestig sal word. Kan enige kommentator wat die klagte bevraagteken aandui teen wie ‘n moorddossier geopen word waar ‘n moord gepleeg is, maar die skuldige nie/nog nie geidentifiseer kan word nie. Voorts word groot getalle motorongelukke geidentifiseer as strafbare manslag sake, selfs waar ‘n ander party nie/nog nie as betrokkene geidentifiseer kan word nie of waar die betrokkenheid van ‘n ander party nie realiteit is/was nie.

Cherokee ·

Linda, die ondersoek word nie gedoen deur die polisie nie maar deur Departement Burger Lugvaart. Hulle is die mense wat oor die kennis en ervaring beskik wat so ‘n ondersoek behels. Hulle sal inspekteurs stuur na waar dit gebeur het en die wrak van die vliegtuig sal ook deur hulle ondersoek word.

Jou verwysing na ‘n moordsaak waar ‘n skuldige nog nie geïdentifiseer is nie, hou nie verband nie want dan is daar ooglopend ‘n ander persoon betrokke wat vervolging regverdig. In betrokke geval is dit uiters onwaarskynlik dat ‘n ander persoon ‘n rol gespeel het.

Linda ·

Ja, dit word gedra as deel van die berig dat die Burgerlike Lugvaartowerheid [BLO] óók [my beklemtoning] die voorval ondersoek – daar moet steeds ‘n saakdossier by die SAPD ge-open word en hulle sal die saak verder voer indien dit uiteindelik nie as ‘n geregtelike doodsondersoek afgehandel kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.