Man sterf ná buffel hom gaffel

André de Villiers. Foto: Verskaf

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat André de Villiers (29), ʼn werknemer en professionele jagter by ʼn private wildreservaat buite Jansenville in die Oos-Kaap, oor die naweek deur ʼn buffel doodgemaak is.

Koekie de Villiers, André se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar seun was ʼn groot diereliefhebber en lief vir die buite- en plaaslewe. Hy het vroeër sy studies in B.Com-regte opgeskort om meer in die natuur te wees.

André is Saterdagoggend in die Imbamba-wildreservaat deur een van die buffels daar gegaffel. Die reservaat het onlangs ʼn nuwe buffel aangekoop en hy wou gaan kyk hoe dit met die dier gaan, toe hy in die buffelkamp aangeval is. Sy familie het begin bekommerd raak toe hy nie by die huis opgedaag het nie en het na hom gaan soek. Hulle het die bakkie waarmee hy gery het verlate gevind, waarna hulle op sy liggaam in die veld afgekom het.

Ao. Theron du Preez, ʼn polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie is omstreeks 16:30 na die reservaat ontbied om met die geregtelike doodsondersoek te begin nadat André se liggaam gevind is.

“Ons weet nie wat presies gebeur het nie. Ek glo hy is onverhoeds betrap. Dit was ʼn fratsongeluk,” het Koekie gesê.

Koekie het gesê sy sal haar enigste seun onthou as ʼn baie reguit en eerlike mens. “ʼn Mens met bitter goeie maniere wat omgegee het vir ander. Hy was baie liefdevol en vriendelik en het alles wat hy sou doen met ʼn groot passie aangepak. Soos sy werk wat hy met oorgawe gedoen het. Hy het nooit na die ure gekyk nie, hy sou werk totdat hy tevrede is met alles.”

Koekie het gesê alhoewel die nuus van André se dood as ʼn groot skok vir haar en haar man, Jeanne, en André se vrou, Malindi, gekom het, het hulle geen kwade gevoelens teenoor die buffel of bestuur van die reservaat nie.

“Die bestuur van die reservaat is net so geskok, en is saam met ons hartseer. Ons is hartseer oor ons kind, maar ons kan mos nou nie kwaad wees vir die mense of die buffel nie. Ons wil glad nie hê die buffel moet van kant gemaak word nie en ons het ook sy werkgewer daarvolgens ingelig. My seun sou baie ongelukkig gewees het daaroor. Dit is maar die natuurlike optrede van ʼn wilde dier.”

André was ʼn uitblinker in ruiterkuns. Hy het op die ouderdom van 12 jaar senior Protea-kleure vir ruiterkuns gekry en ook in die VSA daaraan gaan deelneem. Hy het ook as flank vir die Shimlas-rugbyspan uitgedraf.

André en Malindi was skaars twee jaar getroud en het nie kinders nie. Hulle het saam met Koekie en Jeanne op hul plaas naby die reservaat gewoon.

“Almal is geruk deur die skok van sy skielike dood. Sy ouers en Malindi is stukkend. Hy was verskriklik lief vir hulle en hulle vir hom. Sy onsettende, onselfsugtige en opregte liefde vir sy vrou en ouers was ʼn voorbeeld vir ons almal,” het André se boesemvriend, Johan Vermeulen, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Vermeulen het gesê André, sy vriend van byna 14 jaar, was soos ʼn boetie vir hom.

“Hy was ʼn man met integriteit, ʼn seun vol liefde, ʼn vriend vir baie, ʼn broer en ʼn ‘champ’ soos hy sou sê. Dit is met ʼn groot hartseer dat ek vir dié legende moet totsiens sê,” het Vermeulen gesê.

“Boeta, jy los ‘n groot leemte agter, maar ook groot voetspore! By jou het ons geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer, want dit is wat saak maak. Wat ʼn voorreg was dit nie om jou ʼn vriend en broer te kon noem nie. Jy sal altyd in ons harte wees.”

Koekie het gesê sy is verstom oor hoeveel mense André aangeraak het en die gesin word oorval met boodskappe van medelye. “ʼn Mens word so beskeie as jy sien hoeveel mense vir André lief was. Dit is vir ons as ouers ʼn groot riem onder die hart om te sien watter impak hy op mense gemaak het,” het sy gesê.

Buiten André se ouers en vrou, laat hy twee stiefsussies, Ferne Murabito en Nicole Ferreira, agter.

Hy word Saterdag om 11:00 vanuit die NG Kerk in Somerset-Oos te ruste gelê.

Daniel Balaga, direkteur van die reservaat, wou nie kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Isabel ·

My hart en gebede gaan uit na julle. Sterkte en laat sy mooi mens wees julle sterk hou in julle uur van verdriet. Ek bid vir hulle..

Andre Traut ·

My simpatie aan sy familie. Ek hoop egter nie Imbamba vermoor die buffel nie. Dit was nie sy skuld nie

Louise ·

Ek’t gelees die familie het gesê “onder géén omstandighede moet die buffel van kant gemaak word nie”

Veritas ·

God het ‘n manier om sy engele vroeg uit hierdie wrede wêreld te kom haal. Sterkte aan dié wat deel van sy lewe was

Elisabeth Kruger ·

Ons dink aan julle Gesin hier uit Sabie, ons Vader gaan julle vashou, ons verstaan nie altyd die wee van ons Vader, daarom sal Hy daar wees vir Julle.

Frieda ·

Sterkte aan almal wat agterbly, mag die Here self julle trane afdroog.

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan die Ouers sy Vrou en sy Familie en Vriende.. Dit is so hartseer dat n jong man wat soveel mense se harte aan geraak het , op so n manier moes gaan. Sterkte aan die Familie….

cassie ·

Sterkte aan die familie met hulle groot verlies.Mense moet altyd in gedagte hou dat wilde diere ter verdediging sal optree en doodmaak.Ek glo Andre was profesioneel genoeg en ek glo hy sou geen wilde dier onderskat nie.

Duifie ·

So baie jammer dat dit gebeur het. Sterkte aan sy dierbares, veral aan sy pragtige vroutjie en sy moeder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.