Man sterf ná duikongeluk

Rudi Kunz. Foto: Facebook

Rudi Kunz (30), die man van Hoedspruit in Limpopo wat verlam gelaat is nadat hy in April teen ʼn damoewer vasgeduik het, het gesterf.

Johan Kunz, Rudi se pa, het aan Maroela Media bevestig sy seun is verlede week Dinsdag dood. “Ons harte is in ʼn miljoen stukke geskeur. Hy het baie swaar gekry die laaste ruk,” het hy gesê. “Maar nou is hy weer gesond en hy is by Jesus.”

Hanlie Botha, Kunz se tannie, het gesê Kunz se liggaam het in die weke voor sy dood baie swaar gekry en sy longe kon nie volkome funksioneer nie. “Ons gaan hom so mis. Hy was so ʼn wonderlike jong man,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Kunz het op 1 April saam met ʼn groep vriende by die Klaseriedam gaan uitspan toe die ongeluk gebeur het. Melissa Swan, een van Kunz se vriendinne, het vroeër vertel sy was in die water toe Rudi van die oewer af in die dam geduik het. Toe hy ná ʼn rukkie opkom, het hy geen gevoel in sy lyf gehad nie en iemand moes induik om hom uit die water te haal.

Kunz is per ambulans na ʼn hospitaal in Nelspruit gehaas en later per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. ʼn Skandering het getoon van sy boonste rugwerwels het geskuif en hy het ook swelling op sy brein opgedoen weens die stamp teen sy kop. Hy het kort daarna ʼn operasie ondergaan om die werwels weer in plek te kry.

Meer as ʼn maand na die ongeluk kon Kunz steeds nie self asemhaal nie en was hy steeds aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. ʼn Voedingsbuis is ook in sy maag gesit. Teen einde Mei is Kunz na die Mediclinic Muelmed oorgeplaas en in September is hy na ʼn rehabilitasie- en versorgingsentrum oorgeplaas.

Kunz se vriende het kort ná die ongeluk ʼn fonds gestig om geld vir sy mediese koste in te samel. Daar is onder meer ook ʼn gholfdag in Nelspruit as ʼn geldinsamelingprojek gehou en ʼn Facebook-blad is op die been gebring waar talle gebede en boodskappe van ondersteuning met Kunz gedeel is.

Kunz sal vandag in die Kampersrus-begraafplaas naby Hoedspruit ter ruste gelê word.

Lees alle vorige berigte oor Rudi Kunz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

L. Muller ·

Sterkte aan die familie Kunz en al die vriende mag God julle vertroos in hierdie hartseer tyd.

Jane ·

‘n Ongeluk gebeur so maklik. Simpatie en sterkte aan sy familie en vriende. So jammer vir julle.

Skerp Spioen ·

Baie tragies. Die hele land voel saam met julle Johan. Sterkte buurman en kyk op.

Genieve ·

Baie sterkte aan die families dis n hartseer dag vir hulle.

RikaG ·

Baie sterkte aan die familie en vriende mag julle vertroosting vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.