ʼn Man is dood toe hy Maandag in die vroeë oggendure verskeie kere tydens ʼn huisbraak in Deneysville in die Vrystaat geskiet is.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 03:00 deur plaaslike lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) na die huis ontbied. Daar het hulle die man in ʼn slaapkamer aangetref. Hy het verskeie skietwonde opgedoen en was in ʼn kritieke toestand.
Volgens Meiring is die man op die toneel behandel voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is. Hy het egter kort na sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het die man in ʼn verklaring as Sarel Erxleben geïdentifiseer.
Daar is Maandag verkeerde inligting op sosiale media versprei dat ʼn man vanoggend tydens ʼn plaasaanval in die Deneysville-distrik doodgeskiet is. Konst. Josephine Rani, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê daar is geen plaasaanval in die gebied aangemeld nie.
Maroela Media wag op die polisie se kommentaar rakende die huisbraak.
Dit is presies wat ek in ‘n vorige kommentaar gese het, mense hardloop op Facebook rond met stories voordat waarheid bevestig is .