Man sterf ná hy glo inbrekers agternasit

Argieffoto

ʼn Man is Woensdag in die vroeë oggendure dood nadat hy op ʼn kleinhoewe aan die Wes-Rand geskiet is toe hy glo vlugtende inbrekers agternagesit het.

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het tussen Dinsdagaand 23:00 en Woensdagoggend 04:15 op ʼn kleinhoewe in die Hillside-omgewing in Randfontein gebeur.

Volgens Ernst het twee mans in die huis op die kleinhoewe geslaap toe een van die mans wakker geword het van die geluid van mense binne die huis. “Hy het vermoedelik die ander man wakker gemaak en toe die verdagtes agternagesit wat besig was om van die toneel te vlug. Die tweede man in die huis het gehoor hoe ʼn skoot buite die huis afgevuur word. Toe hy uitgaan, het hy die eerste man met ʼn ernstige skietwond in sy kop buite die huis aangetref,” het Ernst verduidelik.

Die man is dadelik na ʼn plaaslike hospitaal gehaas, vanwaar hy per helikopter na ʼn ander hospitaal vervoer sou word. Hy het egter gesterf voordat hy na die tweede hospitaal oorgeplaas kon word.

Dit het by nadere ondersoek aan die lig gekom dat daar by die huis ingebreek is terwyl die mans geslaap het. ʼn Televisie en selfone is uit die huis gesteel. Volgens Ernst het die inbrekers deur ʼn venster toegang tot die huis verkry.

Ernst het gesê die oorlewende is erg getraumatiseerd deur die voorval. Die oorledene was ongeveer 23 jaar oud.

Brig. Mashole Jacob Manamela, bevelvoerder van die Randfontein SAPD, het tydens sy besoek aan die toneel sy skok uitgespreek oor die brutaliteit van die aanval. “Ons sal geen steen onaangeroer laat in ons ondersoek na die saak nie. Ons innige medelye gaan aan die naasbestaandes van die oorledene,” het Manamela gesê.

Sake van moord en huisbraak word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting wat die ondersoekspan kan help, word versoek om lt.kol. Steven Ramathlape by 011 278 8100 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bok ·

Ja, ons lewe in “Ganster paradis” (GP)
Wanneer ons reg lewe en aan die drie enige God glo en bely is die stryd 3/4 gewone.

Casper Labuschagne ·

@Bok, jy is absoluut reg ons moet reg lewe en die land en sy mense het jou gebede nodig. Maar doen asseblief vir my en myself ‘n reuse guns deur nie in hierdie land te bly nie, sodat jy kan bid in veiligheid en nie biddend op jou knieë doodgemaak word nie.

Casper Labuschagne ·

Regstelling van ‘n tikfout – die woord “myself” in die die tweede sin moet as “jouself” lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.