Man sterf ná hy swart mamba hanteer

Ryan Soobrayan. Foto: Facebook

ʼn Jong man van Johannesburg is die afgelope naweek dood nadat hy ʼn erge allergiese reaksie op die gif van ʼn swart mamba gehad het.

Ryan Soobrayan was ʼn werknemer van African Reptiles and Venom (ARV), ʼn maatskappy wat slangidentifikasie en -bewusmaking, slangbytbehandeling en noodopleiding vir giftige slanghantering bied.

IOL berig Soobrayan, ʼn professionele herpetoloog, is oorspronklik van Phoenix in Durban afkomstig en sou Sondag 27 jaar oud geword het. Hy is Saterdag in ʼn hospitaal dood.

ARV het Sondag op sy Facebook-blad gesê Soobrayan was besig om die gif van ʼn swart mamba te onttrek toe die tand sy vinger raakgesteek het. Hy het ʼn erge anafilaktiese reaksie van die gif gekry en is daaraan dood.

Soobrayan was ʼn slangplaasbestuurder vir ARV en was verantwoordelik vir gifonttrekking en die beheer van die slange. Hy het soms ook gehelp met opleiding.

Volgens Soobrayan se Facebook-blad het hy in Mei vanjaar aan Jacquelyn Sewcharan verloof geraak. Sewcharan het Maandag op Facebook hulde aan haar verloofde gebring en gesê daar is geen woorde om te beskryf hoe ʼn wonderlike mens hy was nie. “Ek is gedwing om jou te groet en dit maak so seer, maar ek weet jy glimlag oor dit wat jy bereik het, en jy is dood terwyl jy gedoen het waarvoor jy lief was. Ek wens ek het meer tyd saam met jou gehad; jy was my hele lewe en ek weet nie hoe ek sonder jou gaan aangaan nie.”

Robert Wedderburn, ʼn goeie vriend van Soobrayan, het op Facebook geskryf hy was verstom deur Soobrayan se passie vir slange en sy toewyding om soveel as moontlik oor die reptiele te leer. “Ryan het ʼn vrygewige hart gehad en enigiemand wat hom geken het, sal daarvan kan getuig.”

Ryan Soobrayan. Foto: Facebook

Dadaire Alphar het op Facebook geskryf: “Rus in vrede my held. Ek sal altyd jou geselsies, grappe, advies en durf mis.”

Pieter Swanepoel het ook vertel van Soobrayan se omgee-hart en die feit dat hy altyd gewillig was om ander te help. “God het ʼn pragtige blom te vroeg gepluk. Mag jy in vrede rus. Tot ons weer ontmoet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

VanAfrika ·

Waar was die anti-venom!!!! Tref die plek nie voorsorg nie???

Marlie ·

Lees mooi!!! Hy het in anafalaksiese skok gegaan! Dis ‘n heeltemal ander reaksie as die “envonomation”.
Teengif kan NIKS doen teen anafalksies skok nie; inteendeel.

EK ·

VanAfrika, lees weer…hy is dood van n allergiese reaksie, teengif sou nie help nie, niks of niemand sou enige iets kon doen in die geval.

Anonieme Lafaard ·

Kalmeer VanAfrika. Gaan sit ek haal ‘n paar keer diep asem. Dit was nie die gif nie, dit was ‘n allergiese reaksie. Van ‘n ander nuusbron wat Johan Marais aanhaal: “What’s strange here, is that he did not die from the venom. His body went into shock or anaphylaxis”.

Katerina ·

Dit maak my so hartseer en mismoedig wanneer so n wonderlike, ordentlike jongmens sterf..Baie baie simpatie met al sy geliefdes uit my hart. Dis bitter. Daar is darem die vertroosting dat hy gesterf het terwyl hy gedoen het wat sy lewe gelukkig gemaak het. Ek weet dis skrale troos, ek weet. Maar ek kry die gevoel hy het darem n gelukkige lewe gehad met baie liefde en vriendskap. Ai dis so hartseer.

Dakplaat ·

My eerste reaksie ook. Hemel dit maak my kwaad!!! Die “Christen-gemeenskap-woordeskat” wil my soms in my hande laat opgooi. Genade, waar kom die mense aan hulle teologie?

Seeskulp ·

Dakplaat, hulle hoor dit al jare van afrikaanse kansels af verkondig, dit en baie erger leuens wat ons nie hier sal noem nie…

Mickey ·

Allergie is n nare ding. Ek het al gehoor as n slang jou pik of n spinnekop jou byt moet jy byvoorbaat n allergiese pilletjie drink. Lank terug het iemand my vertel daar is blykbaar meer mense wat dood gaan van n allergiese reaksie as van die venom.

Koos ·

Pieter Swanepoel, let daarop dat dit nie God is wat ‘n pragtige blom té vroeg gepluk het nie – dit is glad nie in God se aard om Sy kinders dood te maak nie.

Dit is wêreldse omstandighede wat nie deur God meegebring is nie.

Skyn ·

Slang op foto is nie ‘n mamba nie. Die bak-kop en strepe aan die onderkant lyk soos ‘n spoegkobra?

What a joke! ·

Miskien n Mosambieke spoegkobra miskien n Rinkhals…Met die donker agterlyf sou ek raai dit is n Rinkhals waar jou M. spoegkobra gewoonlik ligter is agterlangs op sy rug en stert. In elk geval watter een ook al as daai ding so maak van bakkop opstaan was ek lankal aan die ander kant van die berge….
Jammer verlies..

Martin ·

Tragiese geval, soos altyd wanneer ’n jongmens sterf.
Maar volpunte vir julle, Seeskulp en Koos! Mense kan gerus ophou om God te beskuldig wanneer iemand sterf. Soms word ’n kind verkrag en vermoor en dan praat die leraar ook van “die mooiste blom in Sy tuin wat God gepluk het”… Dis onsin! God verwoes nie Sy blommetjies nie! Tragedies gebeur en daar is baie redes voor.

Lucia ·

My innige simpatie aan sy familie sy mamma het saam my gewerk! Lots of Love to Irene and her family xxx

Robert ·

Pieter Swanepoel, sal graag wil hoor hoe jy by jou opmerking uitgekom het om te sê God het ‘n blom te vroeg gepluk.

SNEL ·

Ek stem Koos, 1 Kor 15:25 Die laaste vyand wat vernietig word is die dood. Hebreërs 2:14….. sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel. Satan heers oor die dood. God wil hê ons moet lewe en lewe in oorvloed hê en nie sterwe nie, ons moet veg om te wil lewe in hierdie lewe. Siekte en al sulke goed kom agv die sondeval (deur Satan), dinge gebeur, maar die wat in Jesus sterf sal lewe. Depressie kom van Satan, hy wil ons vernietig, hy wil ons last voel soos niks, maar eintlik is ons kosbaar en God se beste skeppingswerk.
Baie sterkte aan Ryan se ouers en familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.