Man sterf na hysbak val

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man van Durban is Maandagoggend dood nadat die hysbak waarin hy was, drie verdiepings ver geval het. Sy kollega wat saam met hom in die hysbak was, het ernstige beserings opgedoen.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die voorval het by ʼn onderneming in Hunter Laneweg in Durban plaasgevind. Meiring kon nie die naam van die onderneming bevestig nie.

“Paramedici het by die toneel opgedaag en gesien ʼn groep mense drom saam om die ingang na die hysbak. Die twee mans is in die hysbak aangetref, maar een het reeds aan sy beserings beswyk,” het hy gesê. “Die tweede man was in ʼn kritieke toestand. Nadat paramedici hom uit die hysbak bevry het, is hy na Addington hospitaal gehaas vir dringende mediese behandeling.”

Volgens Meiring is dit nie in hierdie stadium duidelik wat veroorsaak het dat die hysbak geval het nie. Die voorval sal deur polisie ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pendoring ·

Dieselfde ou storie, geen instandhouding nie. Daar is soveel meganismes wat so ‘n val vehoed dat dit nie moontlik is nie. Maar nou ja, om ‘n ding reg te maak wat nie stukkend is nie is mos ‘n Westerse ding.

SNEL ·

Nou wonder ek, as so iets gebeur; moet jy sit, lê, spring, jou pap hou of wat om die impak van die val te keer? Skreeu sal beslis spontaan gepaard gaan met een van die boonste posisies. Ek kan nie dink dat daar nie na die instandhouding gekyk word van sulke goed wat mense se dood kan veroorsaak nie en wat elke dag honderde kere gebruik word nie, iemand moet verantwoordelik gehou word vir wat hier gebeur het.

Nico ·

Hysbakke wat val is niks snaaks in Pretoria se middestad nie. Maar ek het nog nooit van ernstige beserings gehoor nie. Weet ook nie of dit so ver val nie. Het die een dalk grond getref? Maar vir ‘n oplossing sou ek raai om op die grond te gaan lê. (As jy tyd kry.)

Bruno Stef ·

Hysbakke moet gereeld nagegaan en getoets word om vas te stel dat verskillende ingeboude veiligheidsfaktore in volgorde opereer tensy van die veiligheids beskermings skakelaars en relays uitgebrug is om die hysbak tydelik vir toetsdoeleindes operasioneel te kry.Die hysbak het n register en foute moet gereeld daarin aangeteken word en saam met n inspekteur as geheel meganies en elektries getoets en as veilig verklaar word.Ek dink daar is kortpad iewers gevat

KarooKlong ·

Hang af wie het die tender gekry en wie is die inspekteur.

Paplepel ·

Ek stem saam met Pendoring.
Die manne wat weet, sê jy moet probeer plat lê om die skok oor ‘n groter gedeelte van jou lyf te versprei. ‘n Hysbak wat korrek in stand gehou word sal onmiddellik rem as ‘n kabel sou breek. Indien die motor se rem sou ingee gaan die “overspeed” beskerming inskop en die hysbak rem. Onder in die gat het jy nog hidroliese skokbrekers en vere om die skok te absorbeer. Die noodremme op hysbakke is ook gewoonlik redelik aggressief, dis ‘n blok staal wat in ‘n V ingetrek word.

George ·

Hierdie is maar net nog ‘n simtoom van die verval wat plaasvind. Inspeksies en dienste word deur onbevoegte “tegnici” uitgevoer. Ek is verbaas dat daar nie meer van sulke dinge plaasvind nie.

KarooKlong ·

Lyk my daar was fout met die hysbak se airbags ook :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.