Man sterf ná verwoestende brand in reservaat

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Guy Venter, die man wat Donderdag ernstige brandwonde in ʼn veldbrand in die Dinokeng-wildreservaat, noordoos van Pretoria, opgedoen het, is Vrydagaand oorlede.

Venter, in sy 40’s, het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

JP Botha, voorsitter van die Sinoville-brandbeskermingsvereniging, het Saterdag aan Maroela Media gesê Venter het 65% brandwonde opgedoen en was in ʼn kritieke toestand ná die brand. “Mense wat 40% brandwonde opdoen, het klaar ʼn 50-50-kans op oorlewing. Mnr. Venter het 65% brandwonde opgedoen. Ons het onmiddellik geweet dit is baie ernstig.”

Hy sê die vereniging het berading beskikbaar gestel vir al die bestryders wat deur Venter se dood geraak is, veral vir die 19-jarige Duan Bezuidenhout wat Venter uit die brand gered het. “Ek het met Duan gepraat en hy sê hy is oukei, maar ek het ook vir sy ouers gesê om hom dop te hou en ons sal enige ondersteuning aan hom bied wat hy nodig het.”

Bezuidenhout is ʼn lid van die Sinoville-brandbeskermingsvereniging.

Die brand in die reservaat het Donderdag vermoedelik ontstaan toe iemand met ʼn hoekslyper gewerk en die veld vlam gevat het. Die brand het vinnig buite beheer geraak en hulp van die Cullinan- en Sinoville-brandbeskermingsverenigings is ingeroep.

Venter, ʼn vrywilliger, het saam met ʼn werker met sy bakkie en ʼn brandbestrydingstenk agterop gehelp om die brand te blus. Volgens Botha het die pomp van die brandbestrydingstenk agterop die voertuig afgegaan en Venter het uitgeklim om die pomp weer aan te skakel.

Dit is toe dat die vuur skielik van rigting verander het en Venter agterop die bakkie in die vlamme vasgekeer is. “ʼn Veldbrand is verskriklik gevaarlik. Die brand maak sy eie wind. Hy suig suurstof in en al waai die wind wes, kan die vlamme oos beweeg. As die wind nog saam met die brand se suurstof gaan, is dit soveel erger,” sê Botha.

“Dit was ʼn verwoede vlammehel wat bo-oor [Venter] en oor die bakkie is. Die werker het geskree en ons het net gesien hy is aan die brand.”

Botha sê Bezuidenhout, wat ʼn brandbestande pak aangehad het, het in die vlamme ingehardloop om Venter uit die brand te trek. Hy is daarna terug in die brand in om Venter se bakkie te gaan haal en uit die vlamme uit te ry.

Twee gekwalifiseerde paramedici wat op die toneel was, het onmiddellik Venter se klere van hom afgesny en Burnshield opgesit om die wonde steriel te hou. Hy is daarna met ʼn voertuig na ʼn landingsplek geneem waar ʼn mediese helikopter hom opgelaai en na ʼn hospitaal geneem het.

“Ons het alles gedoen wat ons kon in die situasie en dit is altyd ʼn slag vir almal wanneer iemand op so ʼn manier moet sterf,” sê Botha.

Hy sê dit is daarom dat opleiding oor brande vir die brandvereniging van sleutelbelang is om seker te maak mense weet presies wat om te doen wanneer ʼn brand uitbreek. “Mense doen dikwels soveel verkeerde goed in so ʼn situasie. Jy sal mense hoor vertel om botter of olie of selfs grondboontjiebotter op brandwonde te sit. Moet asseblief nie sulke twak aansmeer nie. Water, water, water. As iemand gebrand het, moet jy water op die wonde kry. Verkieslik skoon water om onmiddellik die vel af te koel,” sê hy.

“Dit is ook belangrik om die regte klere te dra wanneer ʼn brand versprei word. Vermy nylonklere wat maklik aan die brand kan slaan en as’t ware in jou vel in kan smelt. Ontbied onmiddellik professionele hulp om met brandbestryding te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Dit is baie hartseer.
Ek wil net graag mense inlig dat hul druk op veral wildsplase en reservate plaas om beter veldbestuur toe te pas:
Waar daar nie meer beeste/ grasvreters die gras goed bewei en dit in die winter baie kort en kaal word nie, vereis die groter risiko van veldbrand, en dat dit onbeheerbaar en uiters gevaarlike afmetings aanneem, dat groter voorbrande gemaak word voor die winter.
Gewone brandpaaie is dan nie meer voldoende nie!
As daar bv. na die Sondela brand van ‘n paar jaar gelede gekyk word, dan is dit duidelik dat wildsplase/reservate groter brand risiko en ernstige skade in die gesig staar, en mense besef dit nie.
En dan is daar nog die ongebruikte en vakansie-boer plase tussen in wat nog groter risiko inhou!

Hartseer ·

Dit is so hartseer as so iets met iemand gebeur wat so graag probeer help.My broer was ook n brandweerman wat sy lewe prys verloor het om ander te help.Baie sterkte aan jul as families vriende en gemeentskap.Jonge Duan jy is verseker ‘n hero in my oe.Ons dra jul op in ons gebede

Ella ·

My innige simpatie aan die gesin en familie van mnr Venter en ook sterkte vir mnr Bezuidenhout.
Dis vreeslik om te help n brand blus wat deur nalatigheid begin het en dood te brand.
Dit is absoluut onaanvaarbaar dat mense nie versigtig te werk gaan veral as dit so droog is soos tans.
Daar behoort gevolge te wees vir die persoon wat dit veroorsaak het. Hoop iemand weet wie dit is.

LB S ·

Ella, moenie so gou wees om te veroordeel nie. Jy weet nie wat die presiese omstandighede was nie, die persoon het dit moontlik nie uit nalatigheid laat gebeur nie. ‘n Ongeluk kan enige tyd ook gebeur. Dink maar aan kleine Pippie, moes haar Pa vervolg word?

Philip wilken ·

Rus in vrede. Sterkte vir die familie en vriende betrokke. Die werk wat ons doen is uiters gevaarlik en onvoorspelbaar. Salute aan n gevalle hero!
Philip Wilken
Suidkaap brand beskermings vereniging

Attie Cloete ·

Ek was self by n gevaarlike vuur wat Donderdag begin het deur die gebruik van sweismasjien en hoekslyper in die veld. Hoewel die ons die hektare beperk het, het die vuur herhaalde kere van agter opgevlam en ons moes vlug. Ek wil my mede boere versoek om die tyd van die jaar uit die veld te bly met hoekslypers en sweismasjiene. In n noodgeval moet uiterste voorsorgmaatreels getref word om n vuur te verhoed. Sterkte aan die familie van Guy Venter in die hartseer tyd.

Johan ·

Ek dink aan daai man wat sy lewe verloor het in die vuur ek bid vir sy vrou en famielie

So moeg ·

‘n Vriend van ons met ernstige brandwonde in hospitaal. Ek is net so moeg vir julle oningeligte kommentaar. Julle weet Niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.