Man sterf ná wilde jaagtog deur Pretoria se strate

Die verdagtes se voertuig. Foto: Verskaf

Die verdagtes se voertuig. Foto: Verskaf

ʼn Vermeende rower is Woensdag dood, en een is in hegtenis geneem nadat hul plan om ʼn huis in Pretoria te beroof, deur ʼn parate jong man, ʼn veiligheidsmaatskappy en die lede van die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) gefnuik is.

Pierre Viviers, voorsitter van die Wierdabrug Sektor 2-GPF in Centurion, het Donderdag aan Maroela Media gesê die vyf rowers was omstreeks 10:40 besig om ’n huis in Rooihuiskraal te beroof toe die ­eienaar van die huis se seun in sy motor daar verbygery het.

“Die seun het onraad vermoed en dadelik sy pa gebel, wat op sy beurt hulp ontbied het,” het Viviers gesê. “Een van ons GPF-lede was eerste op die toneel. Toe hy daar aankom het ʼn verdagte ʼn vuurwapen op hom gerig voor hy en sy makkers in ʼn wit Toyota Hilux van die toneel gevlug het.”

Die GPF-lid het die verdagtes agternagesit, en ʼn voertuig van MonitorNet het kort daarna by die jaagtog aangesluit. Intussen het ander lede van die GPF alle wegkomroetes begin afsper.

Die verdagtes is in die Ou Johannesburgweg van die pad af gedwing waar ʼn oor-en-weer-skietery tussen die verdagtes en hul agtervolgers uitgebreek het.

Die verdagtes se bakkie se voorwiel is geskiet, maar hulle het aanhou ry. “Hulle het begin om van die gesteelde goedere, waaronder ʼn televisiestel, uit die bakkie te gooi in ʼn desperate poging om die pad vir hul agtervolgers te versper,” het Viviers bygevoeg.

Die verkeerslig op die hoek van Ou Johannesburg- en Wierdaweg was rooi en met stilstaande verkeer geblok. In ʼn poging om dié kruising te vermy het die bestuurder van die bakkie die pad verlaat en in ʼn vlei langs die pad beland.

“Die bakkie het gerol. Drie verdagtes het dadelik uitgespring en in die bosse verdwyn toe die bakkie tot stilstand gekom het. Een persoon is op die toneel van die ongeluk dood gevind, en een is beseer en in hegtenis geneem.”

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder van die Rooihuiskraal-polisiestasie, het aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek sal bepaal of die verdagtes gesterf het weens ʼn koeëlwond of weens die ongeluk.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof,” het sy gesê. “Die ander drie verdagtes word nog deur die polisie gesoek. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, is in die hospitaal onder polisiebewaking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Asjas ·

Die een wat gevang is gaan sing soos ‘n canary. No honour amongst thieves …

Ken ·

Die GPF in Centurion is ongelooflik paraat!! Welgedaan ouens!! Trots op julle!!

Anton Amit ·

Jong Asjas van sing soos n ‘n canary weet ek nie so mooi nie want eerstens mag die ondersoek beampte nie aan hulle raak nie en tweedens weet ek of die politieke wil daar is om aan hulle te raak nie

HEVW ·

Dit klink soos n Amerikaanse rillerfliek. Ogelukkig het die helikopter ontbreek anders kon almal gevang gewees het. Gelukkig was dit so beskik dat die seun op die regte tydstip by die huis verby gery het en sy pa kon laat weet. Met die meer sukses wat deesdae behaal word lyk dit tog of daar meer paraatheid by die veiligheidsdienste is. Stedelike rooftogte het n eiesoortige gestalte wat op eie wyse gehanteer moet word. Talle ander mense se eindom en lewe is dikwels op die spel. Welgedaan en baie geluk.

ladybug ·

Ek laaik om sulke berigte te lees! Gee ons meer hiervan! So maak ons ons land skoon!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.