Man sterf ná wrede kaping

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Man is dood en sy vriend ernstig beseer nadat hul voertuig in Lydenburg, Mpumalanga, gekaap is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is vroeg Sondagoggend na ʼn Shell-vulstasie langs ʼn winkelkompleks ontbied. Met hul aankoms het twee veiligheidswagte hulle geneem na waar ʼn man op die grond erg lê en bloei het. “Terwyl hulle ʼn ambulans ontbied het, is hulle in kennis gestel van nog ʼn man wat erg bloei.”

Volgens Hlathi het die man ook erg uit sy mond gebloei en kon nie praat nie. “Die beamptes het vir hom ʼn pen en papier gegee. Hy het sy naam geskryf en genoem dat sy VW Golf 1.6 deur twee onbekende mans gekaap is. Hy het gesê die ander beseerde man was saam met hom ten tyde van die voorval.” Die kaping het glo naby aan die vulstasie plaasgevind. Dit is nog onduidelik of die slagoffers self tot by die vulstasie gekom het of daar afgelaai is.

Die ambulans het kort hierna op die toneel aangekom. “Die man wat eerste deur beamptes op die toneel gevind is, het egter reeds aan sy beserings beswyk. Die ander man is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.”

Volgens Hlathi is die VW Golf intussen in Machadodorp voorgekeer. Twee verdagtes, onderskeidelik 19 en 27 jaar oud, is in hegtenis geneem. “Daar was oral bloedkolle in die motor asook ʼn vuurwapen wat glo vir die pleeg van die misdaad gebruik is.”

Hlathi het gesê die verdagte in wie se besit dit gevind is, was vermoedelik die een wat die twee slagoffers geskiet het. Die verdagtes sal waarskynlik vandag in die Lydenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Carlia ·

Oosie, jy moet onthou, hul mag NOOIT sê vir moord nie, want dan lyk dit sleg in die SAPD se statistieke. Dit is altyd die makliker uitweg om te sê, roof, al het die sleg blikskottels dit vooraf beplan.

Ouma ·

Tragies, maar ek is verskriklik bly dat die skuldiges vasgekeer is. Vandag is ‘n lewe niks werd nie!

Theresa ·

Dis tragies! So onder ons neuse. Gooi sommer die sel sleutel weg! Hulle moet sit en boet vir hulle dade. Enigste oplossing is die doodstraf moet terug gebring word.

Theresa ·

Tragies! So onder ons neuse. Gooi sommer die sel sleutel weg. Enigeste oplossing is die doodstraf moet terug gebring word

Hennie ·

Dis so algemeen, elkeen het ‘n ongelisensieerde vuurwapen, terwyl die vuurwapen eienaars die afgelope dekade ontwapen is. Word dit nou maar net so gelos dat niemand iets daaraan doen nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.