Man sterf ook ná Limpopo plaasaanval

Pat Peterson en Bibi (Foto aan Maroela Media verskaf)

Cecil Peterson (82), die man wat kritiek gewond is nadat hy en sy vrou, Pat, in September op hul plaas tussen Modimolle (Nylstroom) en Bela-Bela (Warmbad) aangeval is, is oorlede.

Sonja Matthee, Pat se dogter, het aan Maroela Media bevestig Cecil is in ʼn hospitaal in Pretoria oorlede.

Maroela Media het vroeër berig die Peterson-egpaar is op 13 September deur vier aanvallers op hul plaas TNT buite Bela-Bela oorval. Die aanvallers het omstreeks 09:00 die huishulp, wat buite die huis besig was, met ʼn vuurwapen gedreig en na die huis gedwing. Hulle het glo geld geëis.

Pat is deur ʼn veiligheidshek in haar maag geskiet en is op die toneel dood, terwyl Cecil deur sy kaak geskiet is. Die aanvallers het kort ná die skietery van die toneel gevlug.

Vier verdagtes is op 29 September in Kanana in Hammanskraal in verband met die aanval in hegtenis geneem. Maroela Media het by die provinsiale polisiewoordvoerder navraag gedoen oor die vordering van die saak en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.