Wynand Karel Snyders (50) is Sondagoggend dood en ʼn 16-jarige seun, Johannes Snyders, is ernstig beseer nadat die mikrovliegtuig waarmee hulle gevlieg het in Limpopo neergestort het.
“Die mikrovliegtuig het omstreeks 08:50 in die bosse langs die D311 Shongwane Seleka-pad naby Ditlou neergestort,” het kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, Maandag gesê.
Na wat verneem word, het Wynand die mikrovliegtuig gevlieg. Hy is kort na sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Die seun is met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
“Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie. Die Burgerlike Lugvaartowerheid is in kennis gestel en stel ondersoek in,” het Otto gesê.
Die Witpoort-polisie ondersoek ook die saak.