Man sterf toe buffel hom gaffel

Claude Kleynhans. Foto: Facebook.

Claude Kleynhans (53), ʼn professionele jagter van Tzaneen in Limpopo, is Dinsdagmiddag dood toe ʼn buffel hom gegaffel het.

Karen Kuhne Kleynhans, wat met Jan, Claude se broer, getroud is, het aan Maroela Media vertel die voorval het in Makuya in Limpopo op ʼn konsessie-jagplaas plaasgevind.

Kuhne Kleynhans vertel dat Claude Maandag ʼn kliënt uitgeneem het om ʼn buffel te gaan jag en Dinsdag omstreeks 11:00 saam met ʼn werker gegaan het om die karkas van dié buffel op te laai.

“Hulle was besig om die bosse om die dier oop te kap en het nie die ander buffel gesien nie. Die buffel het hom gestorm en met die horing in sy lies gegaffel.”

Sy vertel dat die werker onmiddellik na die lodge toe teruggehardloop het om te gaan hulp soek, maar Claude het vermoedelik teen daardie tyd reeds doodgebloei. Die familie vermoed die buffel se horing het sy hoofslagaar getref.

Kuhne Kleynhans vertel dat jag Claude se passie en ʼn buffel sy gunstelingdier was.

“Hy was lief vir wat hy gedoen het. Hy het doodgegaan deur dit te doen waarvoor hy lief was.”

Claude word oorleef deur sy vriendin, Marissa, dogters, Marina en Jolene, en seun, Alec.

Finale begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie.

Jolene het in ʼn hartroerende huldeblyk aan haar pa op Facebook geskryf: “My pappa, mooiste mens in die lewe. Ek gaan na jou verlang. Jou glimlag en jou giggels. Om met jou te gesels as my hart seer is. Ek weet net dat jy op jou happy place was en dat jy lief was vir wat jy gedoen het. Wens dit kon anders wees. Almal gaan Pappa mis en onthou wie en wat Pappa was. Dankie dat jy soveel liede gehad het om vir almal te gee. So, so baie lief vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

RIV mede jagter ·

RIV mnr Kleynhans. So sleg om ‘n jagter te verloor wat lief was vir jag en natuur en bewaaring. Ek self Jag baie graag en sal nog seker eendag my buffel skiet. Innige meegevoel vir famielie en vriende . Mag julle vrede vind met die vrats ongeluk.

ChrisE ·

Baie tragies. Ek het meegevoel met die familie. Dit is weereens ‘n bewys dat buffels van die gevaarlikste wilddiere is. Ek dink van die trop het seker by die dooie dier gewag (getreur) en mnr Kleynhans was die ongelukkige persoon wat noodlottig beseer is. ‘n Neef van my het jare gelede ook ‘n buffel geskiet. Die buffel het egter nie dadelik geval nie maar in die bosse/veld “verdwyn”. Na ‘n lang soek het hulle hom weer gekry waar hy agteruit in struike ingeloop het en vir hulle “gewag” het. Die tweede skoot was toe die doodskoot.

Rudie ·

Aan n vried bo virwagtinge moet ons afstand doen hy was altyd daar vir raad en net om by te staan jy sal gemis word vir al nou nou sal my bos braai nog moet wag , n kind van Jusus was hy selfs in sy swaar tyd het hy kop op gehou , mis gaan ek jou mis vandag tot ons weer sien my ou maat . Sterkte aan al sy mense wat hy agter laat en wees virseeker hy is by God ons vader

Leon ·

Baie baie tragies. Mag sy familie berusting vind in die tyd van smart.

kas ·

Dit is ongelooflik hartseer wat gebeur het maar ek glo hy sou so wou sterf deur te doen wat hy die liefste voor was.Al gaan ek net om ‘n blesbok te skiet bly my leuse,” expect the unexpected en vever underestimate your apponent”

marous ·

Een van die beste mense wat hier gewandel het . Saggies rus Claude.

Realis ·

Een van die mees etiese en eerlikste beroeps jagters wat nog op Afrika bodem gewandel het. Rus sag Claude, jou lewe het gespreek van jou liefde vir die Skepper en die natuur en daarom berus ons dat jy veilig by God is. Jy was waarlik een van die “gentlemans” wat ek die vooreg gehad het om te leer ken in die Afrika bos.

Oom Kalahari ·

Jag was jou passie Claude en menige jagter Nasionaal en Internasionaal wat deur jou gelei was gaan jou baie mis. RIV ou grote en alle medelye aan Marissa, Marina, Jolene, Alec, Karen Kuhne en Jan vir jul groot verlies en wens jul alle sterkte en gebede toe gedurende hierdie tyd van rou en afskeid. ‘N Groot geliefde ook in die gemeenskap het gegroet.

Pieter ·

RIV groot vriend van my. Jou geloof in ons Liewe Vader was werklik treffend. Claude se heengaan is ‘n verlies vir Tzaneen en omgewing

MM ·

Tragiese gebeure – ‘n buffel is een van die gevaarlikste (indien nie DIE gevaarlikste) grootwild om te jag nie. My pa het my kleintyd al vertel dat jy skiet om dood te skiet, want om ‘n buffel te kwets is die ergste. Sirkel terug om jagter te jag. Nevermind die trop manier om te treur nie, dis net so gevaarlik – jy moet HEELTYD paraat wees as jy buffels jag. Baie sterkte aan die familie en geliefdes.

Amanda ·

Ons was saam by Ben Vorster skool in Tzaneen, onthou hom as ‘n baie vriendelike en hoflike jong man met die pragtigste blou oge. Het hierdie tragedie ook al baie naby in my familie beleef, dis ‘n wilde wereld die Afrika…baie sterkte aan almal wat hom lief gehad het!

Ernie ·

Ek is geskok!! Claude was een van Tzaneen se “sweethearts”. Aantreklike man, met nóg mooier hart. Wat ‘n verskriklike verlies. Sug. Rus In Vrede Claude.

Mike Gloster ·

Claude my neef, ek is so hartseer wat met jou gebeur het, ons het groot geword saam met jou broer Jannie en wonderlike tye saam gehad. Ons was altyd in die bos, voelties geskiet met ketties en pellets en sommer gebraai op takkies sonder sout, sal nooit vergeet nie. Op die treinspoor gespeel in Duiwelskloof, in die begrafplaas gespeel soos onskuldige kinders en nooit n issue of worry gehad oor enige gevare nie want ons ouers was altyd daar vir ons. Lief Jou my Neef , RIV. Baie Jammer Oom Johnny, Jannie en al die familie. Liefde Mike

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.