Man sterf toe hy drie tieners in see help  

Reza Yon (Foto: Facebook)

ʼn Man wat dood is toe hy gehelp het om drie tieners uit die see te red by Mnandi-strand naby Mitchells Plain, Kaapstad, is as ʼn held geloof.

Die 48-jarige Reza Yon van Mitchells Plain was Sondag op die strand toe hy gesien het die tieners verkeer in nood. Hy het met ʼn lyfplank die see ingegaan en kon die lyfplank vir hulle gee voordat hy self in die moeilikheid beland het.

Volgens Arno Constance, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Strandfontein, is NSRI-lede omstreeks 14:45 ontbied. ʼn Vaartuig is ingespan en twee van die tieners is in see gevind waar hulle aan ʼn lyfplank vasgeklou het.

“Die twee tieners het aangedui dat hul vriend daarin kon slaag om self uit die water te kom terwyl die man wat hulle bygestaan het, uit hul sig verdwyn het.”

Yon is in die branders gevind en ondanks pogings om hom by te bring is hy op die toneel dood verklaar.

Een van die tienerseuns is vir hipotermie en skok behandel terwyl die ander twee tieners reeds met private vervoer die toneel verlaat het.

“Die lyfplank het sonder twyfel daartoe bygedra dat die drie tieners gered is.” Die NSRI het Yon geprys vir sy heldedaad en sy medelye met Yon se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ruby ·

Ai dis hartseer.

Hoop die seuns se familie staan Mnr. Yon se familie by, finansieël en emosioneel.

Reza Yon het ‘n liefdesdaad aan sy medemens getoon en die hoogste prys betaal, respek Mnr.

RIV.

Wondermaarnet ·

Baie hartseer. RIV Mnr. Yon. Jou heldedaad sal altyd onthou word.

Wielspore ·

Om jou lewe vir drie ander mense te gee is ‘n heldedaad.

George ·

Baie braaf van die oom, om mense te red wat besig is om te verdrink is een van die gevaarlikste goed wat jy kan doen. HERO.

Skappie ·

Sterkte aan sy gesin en vriende. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle. Om jou lewe so te verloor om vir ander te help om hulle sin te behou is ‘n held en ‘n voorbeeld vir baie.

Harley Davidson ·

Die tipe mense is die helde waarna straatname en staads geboue vernoem moet word en nie kriminele soos tans die geval is nie.

Pampoen ·

Bestaan daar nog ‘n Wolraad Woltemade toekenning? Hy kwalifiseer beslis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.