Man sterf toe hy vir polisie probeer vlug; nog 3 vas

misdaadtoneel

Argieffoto

Drie verdagtes van King William’s Town in die Oos-Kaap wat Vrydagaand in ʼn skietgeveg en ʼn hoëspoedjaagtog met die polisie betrokke geraak het nadat hulle versuim het om langs die pad stil te hou, is in hegtenis geneem. Nog een is dood in die voorval.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, sê lede van die polisie het ʼn verdagte Toyota Corolla beveel om stil te hou voordat die verdagtes in die motor vir die polisie weggejaag het.

Janse van Rensburg sê ʼn jaagtog het ontstaan waartydens die verdagtes op die polisie losgebrand het en gepoog het om sommige van die polisiemotors van die pad af te dwing.

Sy sê hoewel die polisie die pad laat versper het, het die bestuurder deur die versperrings gejaag en uiteindelik in die baan vir aankomende verkeer op die hoofweg beland. Die bestuurder het beheer oor die motor verloor en in ʼn betonstruktuur vasgery.

Janse van Rensburg sê die bestuurder het in ʼn poging om vir die polisie te vlug van ʼn brug afgespring en is op slag dood.

Die polisie het ʼn 31-jarige man en ʼn 22-jarige vrou in hegtenis geneem en ook later met behulp van ander ondersoekspanne daarin geslaag om ʼn 23-jarige man te wond en vas te trek. Dié man is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die verdagtes staar aanklagte van die besit van ʼn gesteelde motor, roekelose bestuur en poging tot moord in die gesig.

Janse van Rensburg sê minstens een van die verdagtes word met ander misdade in die provinsie verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.