Man sterf toe motor rol, huis tref

Argieffoto

Argieffoto

Een man is Saterdag dood en vyf ander persone beseer toe die motor waarin hulle gery het, gerol en ʼn huis in Durban, KwaZulu-Natal getref het.

Owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel na die ongeluk wat om 03:30 plaasgevind het. Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het die ongeluk bevestig. Hy het gesê ʼn saak van strafbare manslag is by die Phoenix-polisiestasie aanhangig gemaak.

“Interne ondersoeke sal ook gedoen word teen die polisiebeampte wat in die ongeluk betrokke was,” het Zwane bygevoeg.

ʼn Polisievoertuig was glo in die ongeluk betrokke, maar Zwane het in sy kort verklaring na ʼn “staatsvoertuig” verwys.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici het die motor se wrak bo-op ʼn huis in Mount Moriah in KwaMashu aangetref.

“Volgens berigte op die toneel het ʼn motor met vyf insittendes gerol en bo-op ʼn huis tot stilstand gekom,” het hy gesê.

Een van die insittendes het aan sy beserings beswyk. ʼn Tweede persoon het kritieke beserings opgedoen en drie ander persone in die motor het ernstige beserings opgedoen.

“Die eienaar van die huis langs die M25 (ook bekend as die Curnick Ndlovu-hoofweg of KwaMashu-hoofweg), het geringe beserings opgedoen,” het Botha bygevoeg.

Die beseerde persone is na verskeie hospitale in die omgewing geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niel ·

Nou wat dink jy is ‘n polisievoertuig anders as ‘n staatsvoertuig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.