ʼn Man het verdrink nadat ʼn skiboot, waarvan hy die skipper was, by die Kowieriviermond in Port Alfred in die golwe omgeslaan het.
Juan Pretorius, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) van Port Alfred, het gesê NSRI-bemanning is teen 06:42 in kennis gestel dat die boot, met twee mans aan boord, omgeslaan het toe dit die hawe verlaat het om in die see in te vaar.
Die NSRI, polisie en nooddienste het op die toneel gereageer.
“By ons aankoms op die toneel is ʼn plaaslike skiboot op ʼn sandbank aangetref waar dit uitgespoel het. Een man, in sy 50’s, is met geringe beserings op die strand aangetref. Sy vriend, in sy 60’s, was in die see vermis. Die branders was tussen drie tot vier meter hoog buite die hawe,” het Pretorius gesê.
Die man se liggaam is ná ʼn soektog in vlak water aangetref en uit die see gehaal. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.
Volgens Pretorius is die oorledene oorspronklik van Johannesburg, maar het die afgelope tyd in Port Alfred gebly.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Sou n opblaasbaadjie gehelp het? Ek ken nie die see nie en nog minder die spesifieke omstandighede, maar as mens n opblaasbaadjie aan het, sal dit help om boodomslaan te oorleef?