Man sterf toe trok vol soutsuur omslaan

Die vragmotor se wrak. Foto: Rescue Care

Die vragmotor se wrak. Foto: Rescue Care

ʼn Man is dood en een is ernstig beseer toe ʼn swaarwoertuig met ʼn vrag soutsuur Donderdagaand in Durban omgeslaan het.

Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het die ongeluk omstreeks 19:00 in die suidelike baan van die M7 by die aansluiting van Umbiloweg plaasgevind.

“Dit is nog nie duidelik hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Die vragmotor het omgeslaan en die vrag met soutsuur het op die pad begin lek,” het Jamieson gesê.

Die toneel. Foto: Rescue Care

Die toneel. Foto: Rescue Care

Jamieson het gesê daar was ʼn wit miswolk om die wrak en nooddienswerkers moes vir asemhalingsapparate wag voordat hulle dit naby die wrak kon waag.

“Een van die mans is buite voor die vragmotor aangetref en een was in die vragmotor vasgekeer. Die man wat voor die vragmotor was, is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Dit het die brandweer sowat ʼn uur geneem om die man uit die wrak te sny. Hy was reeds dood weens die veelvoudige beserings wat hy opgedoen het.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.