Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het in Ravelstraat in Staalrus gebeur. “Toe paramedici omstreeks 16:15 by die toneel opdaag het hulle die man, vermoedelik in sy 30’s, aangetref waar hy onder die boom lê. Hy was reeds dood,” het Mathe gesê.
“Die vermoede is dat hy onder die boom skuiling gesoek het en toe deur die weerlig getref is.”
Swaar reën het Woensdag oor Gauteng uitgesak en erge kitsvloede aan die Oos-Rand veroorsaak wat die lewe van minstens vier mense geëis het. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Gautengers vroeër vandag gemaan om vandag en veral Vrydag op hulle hoede te wees vir swaar reën, hael, kitsvloede en stormsterk wind oor die provinsie.