Man sterf tydens boendoegeregtigheid

(Foto: SA Polisie)

Die polisie in Mphephu buite Louis Trichardt in Limpopo ondersoeke sake van verkragting, huisroof, moord en poging tot moord ná ‘n voorval Dinsdagoggend omstreeks 01:00.

Twee susters, onderskeidelik 29 en 39 jaar oud, is aangeval en van drie selfone en kontant beroof en glo deur drie onbekende mans verkrag. Die vroue het in hul ouerhuis gelê en slaap toe hulle oorval is.

“Lede van die gemeenskap is in kennis gestel en hulle het na moontlike verdagtes begin soek,” het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee van die drie mans is voorgekeer deur ʼn groep mense. Hulle het die mans met verskillende wapens aangerand en hulle met klippe bestook. Hulle het later een van die mans aan die brand gesteek en hy het gesterf.”

Die polisie is ontbied en beamptes het op die verkoolde liggaam van ʼn man afgekom. “Die tweede man het nog gelewe, en hy is dadelik na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”

Die 23-jarige man wat die aanval deur die gemeenskap oorleef het, sal binnekort in die Mphephu-landdroshof verskyn.

Niemand in die gemeenskap is tot dusver in hegtenis geneem nie. “Die ondersoek duur voort. Enigiemand met inligting oor die groep mense word versoek om lt.kol. Richard Boshomane te kontak by 079 894 5501.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.