Man sterf tydens ongeluk met masjinerie by Tuks

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

ʼn 25-jarige man is dood terwyl hy met swaar masjinerie by die Universiteit van Pretoria gewerk het.

Mokhithi Moeti was in diens van die fasiliteitebestuurmaatskappy Servest en was deel van die instandhoudingspan by die universiteit se LC de Villiers-kampus.

Farhaana Mohidien, groepshoof van bemarking by Servest, het gesê dit is nog nie duidelik wat Maandag tot die ongeluk gelei het nie. “Die ondersoek span kon nog nie die oorsaak van die ongeluk bepaal nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die departement van arbeid handel nog hul ondersoek af,” het Mohidien bygevoeg.

Moeti is op die toneel dood. Die omvang van sy beserings is ook nog nie bekend gemaak nie.

Mohidien het gesê dit is die eerste keer wat ʼn werknemer aan diens gesterf het. “Servest het dadelik bedrywighede van soortgelyke modelle van masjinerie gestaak as ʼn voorkomingsmaatreël tot die ondersoek afgehandel is.”

ʼn Oudit sal ook gedoen word van alle veiligheidsprosedures. “Ons sal ook seker maak dat ons kollegas ʼn verfrisserkursus ondergaan in veiligheidsprosedures en betrokke bedryfsprosedures vir alle hoërisikomasjinerie op die perseel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Ons het gereeld kursusse moes bywoon aangaande veiligheid en noodhulp op die myne. Daar was ook ‘n slaagsyfer wat behaal moes word. Veiligheid was toentertyd (25 jaar gelede) in jou ingedril. Is dit nog so? As ek kyk na die toestand van paaie (slaggate, padrelings, gebrek aan padtekens ens.) en die manier wat daar bestuur word met mense staande agter op bakkies, verontagsaming van stoptekens en robots ens. dan wonder ek. Nou se dae is dit mode om arms by vensters uit te hang, praat nie eers van kinderkoppe. Laasgenoemde kan veroorsaak dat jy net ‘n tor in jou oog kort om jou oog te verloor.
Veiligheid met gereedskap ‘steel’ ook tyd want voorsorg moet eers getref word om ‘n ongeluk te vermy. Ek verbind nie voorgaande noodwendig aan hierdie ongeluk, tog sou dit goed wees om te weet watter tipe van ‘swaar masjinerie’ hierby betrokke is. Niemand is te oud of volleerd om te leer uit ‘n ongeluk-ENIGE ongeluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.