Man sterf wat onder trein beland

(Argieffoto: ER24)

ʼn Vyf-en-twintigjarige man is Maandagaand dood nadat hy onder ʼn trein by die Eikenfontein-stasie in Kraaifontein in die Wes-Kaap beland het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici, die polisie en veiligheidswagte was kort na 20:30 op die toneel. Die man se liggaam was gedeeltelik onder die trein, wat ʼn ent van die platform tot stilstand gekom het.

“Medici het die man ondersoek en gevind hy het ernstige beserings opgedoen en was in ʼn bedenklike toestand,” het Meiring gesê.

Die man is op die toneel behandel en gevorderde lewensondersteuning gegee, waarna hy na die Tygerberg-hospitaal vir verdere behandeling geneem is. Hy het op pad na die hospitaal gesterf.

Dit is in dié stadium nog onduidelik hoe die man onder die trein beland het.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.