Man sterf weens Covid-19 ná hy hospitaalbed afstaan

Jackie, Dirkie en Dirk Rademan (Foto: Verskaf)

’n Pa van Middelburg in Mpumalanga is die afgelope naweek weens Covid-19 dood nadat hy ’n beskikbare bed in die waakeenheid van ’n plaaslike private hospitaal afgestaan het aan ander Covid-19-pasiënte wat dié bed volgens hom meer nodig gehad het.

“Dit is presies wie my pa was,” vertel Dirkie Rademan vandeesweek nadat sy pa, Dirk (46), Vrydagmiddag in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg dood is.

“My pa was ’n man wat nooit aan homself gedink het nie. Hy was ’n wyse man.”

Die 21-jarige Dirkie het sy pa sowat drie weke gelede vir die laaste keer gesien toe Dirk met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is. Pa en seun was onafskeidbaar en het saam rugby by HTS Middelburg afgerig en twee elektriese ondernemings in die dorp bedryf.

Dirkie se ma, Jackie, is twee dae voor haar man se dood toegelaat om hom in die hospitaal te besoek. Dirk was in dié stadium kortasem. Sy toestand het later verder verswak en die dokters het Donderdag aangedui dat hy in die waakeenheid opgeneem sal moet word.

Dirkie en Dirk Rademan (Foto: Verskaf)

“My pa het gesê hy voel orraait en dat daar ander pasiënte is wat eerder die bed nodig het.”

Dirk se suurstofvlakke het egter kort nadat hy die beskikbare hospitaalbed van die hand gewys het, begin daal en daar is verwoed rondgebel na ander hospitale terwyl Jackie en Dirkie gebid het vir nóg ’n beskikbare hospitaalbed.

Groot was die verligting toe daar eindelik Vrydag – die dag van Dirk se dood – nóg ’n bed in die waakeenheid van die Life Midmed-hospitaal beskikbaar geword het. Dirk het dié keer die bed aanvaar hoewel die dokters glo reeds vermoed het dat dit dalk te laat vir hom sou wees.

“My pa het vir hulle gesê: ‘Vat my, ek is reg.’ Ek dink nou hy het eintlik met die Here gepraat,” meen Dirkie.

Dirk Rademan is Vrydag weens Covid-19 oorlede. (Foto: Verskaf)

“Dit was my pa se tyd gewees. Ek en my ma het vrede daarmee gemaak. Ons het die Donderdagaand gebid dat die Here se wil geskied. Hy het geveg tot die einde en die hemelpoorte het vir hom oopgegaan. Hy het sy taak verrig.”

Dirkie sê sy pa se dood laat ’n groot leemte in nie net hul gesin se lewe nie, maar ook dié van talle ander. “Daar waar hy geloop het, het hy ’n verskil gemaak. Hy was ’n ware legende.”

Volgens Dirkie sterk die betrokke Covid-19-pasiënt wat die hospitaalbed ontvang het wat eers aan sy pa toegewys is, goed aan. Die pasiënt sal moontlik binnekort ontslaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christina

Dit bly steeds hartseer. Sterkte aan julle.

marius

Rus saggies goeie mens !

VaalDonkie

Ek bewonder die man. maar jou familie kom eerste. En daarom moet jy eers seker wees jyself gaan oraait wees voordat jy ‘n held is. Maar ek oordeel nie. Dis ‘n baie mooi ding wat hy gedoen het.

Josua

Seker die mooiste storie wat ek in n lang tyd gelees het, ek glo nie die mense besef wat die man werklik gedoen het nie, in my oë glo ek beslis dat hy vir homself ‘n deur oop gemaak het na n tweede uitstekende lewe, ja hy het sy familie agter gelaat met die beste en mooiste voorbeeld wat n pa vir sy kind/s en familie kan laat, hy het gewys hy is n kind van God en dit is waar hy sy Familie gelaat het in Sy Hande dit is hoe jy jou familie eerste stel en agter laat.… Lees meer »

Belinda

ai dis baie hartseer. Dit is n man van God. Hy sal homself tekort doen om ander te help. Sterkte aan die famile