Man sterk goed aan ná Brits-aanval

Basie en Marleen Niemandt.

Basie Niemandt, die 65-jarige man wat die afgelope naweek saam met sy vrou, Marleen (60), by hul huis net buite Brits oorval en met ʼn mes gesteek is, sterk goed aan.

“Dit gaan baie beter met hom,” het Marleen gesê. “Hy is uit die hoësorgeenheid ontslaan en word in hierdie stadium in ʼn algemene saal behandel. Hopelik word hy môre [Donderdag] uit die hospitaal ontslaan.

“Dit gaan goed met ons. Dit is alles genade.”

Marleen, ʼn onderwyseres by ʼn skool op Mooinooi, woon tans by haar kinders in die omgewing. Sy sê hulle gaan terugkeer na hul huis sodra Basie ontslaan word. Die egpaar bedryf ook ʼn geleentheids-venue op die perseel.

Hulle het boonop die naweek ʼn familiefees wat Basie vir niks wil misloop nie, het sy gesê.

Die perseel is uiters goed omhein en beveilig, maar steeds het die aanvaller dit tot op hul erf gemaak. Die egpaar gaan wel bykomende veiligheidsreëlings tref.

Marleen sê hulle het enorme ondersteuning van hul familie en die gemeenskap en sy het mense daarvoor bedank.

Maroela Media het vroeër berig volgens Marleen is Basie Saterdag omstreeks 19:00 na buite om ʼn hek te gaan sluit toe ʼn jong man, gewapen met ʼn mes, hom oorrompel het. Sy sê die man het Basie aan die arm beetgekry en hy het uitgeroep om haar teen die aanvaller te waarsku.

Basie en die jong aanvaller was in ʼn verbete stryd gewikkel en Marleen het enigiets – van ʼn besem tot ʼn tuinstoel – gegryp om die man van Basie weg te kry. Die man het haar ook met die dood gedreig, maar die egpaar het nie bes gegee nie.

Hulle kon tot in die huis kom en die veiligheidsdeur toekry, waarna Marleen die paniekknoppie gedruk en die aanvaller eindelik die aftog geblaas het.

Sy het daarna met ʼn erg beseerde Basie na ʼn hospitaal op Brits gejaag. Hy het talle steekwonde opgedoen en het Sondag ʼn operasie ondergaan.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cornelia ·

Ons dankie die Liewe Vader daarvoor, sterkte vir julle en word gou gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.