Man storm see in toe branders dokter van rotse af slaan

Alec Mackenzie (Foto: Facebook)

Toe branders ’n 63-jarige mediese dokter van Kaapstad van rotse af in die see in slaan, het ’n jong man wat daarvan te hore gekom het nie gehuiwer om met slegs ’n lyfplank die rowwe see in te vaar om hom te probeer red nie.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n man Saterdag omstreeks 14:00 by Kleinmond naby Hermanus in die Wes-Kaap verdrink het.

Alec Mackenzie (30), ’n konstruksiebestuurder van Somerset-Wes, het by sy oom se strandhuis in Kleinmond gekuier toe ’n vrou vir hulle kom sê dat ’n man van die rotse af geslaan is.

“Ons het almal op die stoep gesit en kuier. Ons het gesien die see is baie rof en die branders was baie groot. Toe kom sê ’n vrou in die verbystap vir ons dat ʼn man deur van die groot branders van die rotse af geslaan is,” het MacKenzie aan Maroela Media gesê.

“Ek en my neef het ons duikpakke gegryp en na die strand toe gehardloop. Gelukkig het mense vir ons ’n lyfbord en ’n branderplank gebring. Dit was baie moeilik om in die see in te kom; die branders was baie rof en dit is in ’n gebied met baie rotse,” het hy gesê.

Mackenzie se neef is ook van ’n rots af geslaan, en hy is weer uit die see uit. Mackenzie het dit reggekry om tussen die branders in die see in te gaan tot by die drenkeling.

“Ek het nie eintlik geweet waarheen om te swem nie, hulle moes my maar van die kant af verduidelik. Ek het so 400 m in die see ingeswem en het die man se liggaam so 80 m van my af gesien,” het Mackenzie gesê.

“Toe ek by hom kom was hy bewusteloos en sy gesig was in die water. Hy het nie goed gelyk nie; sy lyf was pers geslaan teen die rotse. Hy was ’n groot man, so ek het besef ek sou nie met hom kon uitswem nie. Ek het toe die lyfbord onder hom ingeskuif sodat hy daarop kon dryf. Ek het hom toe vasgehou tot die NSRI daar aangekom het. Ek het vir so 30 minute daar in die see by hom gewag.”

Volgens Mackenzie het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) vir 90 minute nadat die man uit die see gehaal is, hom probeer resussiteer.

“NSRI-paramedici het dadelik met KPR op die man begin. Hy is na ʼn hospitaal geneem en pogings om hom by te bring, het voortgeduur. Alle pogings was egter tevergeefs en hy is in die hospitaal dood verklaar,” het Stephan Malherbe van die NSRI in Hermanus gesê.

Die NSRI het Mackenzie geloof vir sy optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

humor ·

Hierdie man verdien groot respek, eer en bewondering dat hy selfs bereid was om sy eie lewe op die spel te plaas om n onbekende man se lewe te red. Rig vir hom n standbeeld op daar langs Wolrad Woltemade sn.

nannie ·

Knap gedaan jonge man. Kort meer van jou dapperheid in ons samelewing vandag.

Oom Kalahari ·

Wat ‘n heldedaad en poging om onstuimige see en branders te trotseer om ‘n lewe te red. In die proses het jy jou eie lewe ook in gevaar gestel, maar jou medemens was vir jou belangrik. Dankie vir mense soos jy Alec Mackenzie, want jy is ‘n held en maak verseker ‘n verskil in die gemeenskap. Jammer dat die dokter sy lewe moes prysgee en alle simpatie en wense van sterkte deur hierdie tyd aan familie en vriende. Alec jy het jou bes gedoen en mag jy vir altyd geseen wees en hoop jy ontvang ‘n sertifikaat van helde verering van jul plaaslike Burgemeester.

Velma ·

Ten spyte van die gevaar, het jy nie aan jouself gedink nie, maar die rowwe see ingegaan en gehelp. Jy is ‘n voorbeeld vir baie mense. Jou vriend verdien ook vermelding omdat hy ook probeer help het. Wel gedaan.

Veer ·

Sag op die oog en dapper daarby! Hats off to you, young man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.