Man swaar gestraf vir moord op UJ-student

Palesa Madiba (Foto: Twitter)

Dumisani Ronald Mkhwanazi is Vrydag tot effektief 31 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Palesa Madiba, ’n student aan die Universiteit van Johannesburg.

Madiba is in Augustus 2013 as vermis aangemeld nadat sy die naweek by ’n vriendin, ’n niggie van Mkhwanazi, se huis deurgebring het.

Haar liggaam is meer as twee jaar later in Desember 2015 in ’n vlak graf in Mkhwanazi se agterplaas in Phiri, Soweto, gevind nadat hy ’n vriend van die moord vertel het. Die vriend het die polisie ontbied en Mkhwanazi is kort daarna in hegtenis geneem.

Hy is die afgelope Desember skuldig bevind aan moord.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Mkhwanazi is vroeër vandag in die Johannesburgse hooggeregshof tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord, drie jaar vir die steel van Madiba se selfoon, agt jaar vir regsverydeling, 10 jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Die hof het egter gelas dat sommige van die vonnisse saam met die moordvonnis uitgedien word. Mkhwanazi sal dus effektief 31 jaar van sy aanvanklike vonnis van 43 jaar uitdien.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Dit is geen swaar straf wanneer ‘n moordenaar wat ‘n bedoelde moorde gepleeg het, aan die lewe gehou word in ‘n tronk waar hy weer kan uitstap. Lees weer. Hy is slegs 20 jaar gevonnis vir moord op ‘n jong vrou wat 20 jaar nà die moord, steeds bloedjonk sou wees. Misrabele regstelsel.

Boerkind

Skande! Wat is 31 jaar vir ‘n LEWE?? Die doodstraf moet weer ingstel word!!!

Louise

Net 31 jaar? Oor ‘n paar jaar is hy uit.

Cherokee

Wat bedoel jy by ’31 jaar vir ‘n lewe’, Boerkind? Dit is 20 jaar vir ‘n lewe! Die res van die tronkstraf is vir ander oortredings.

Jean

Swaar gestraf, wat sal Janusz Walus se straf dan wees?